Ses Redes Waarom Lees Belangrik Is

Hoe vaar jou kind met lees? Lees is een van die eerste vaardighede wat aangeleer word — ’n vaardigheid wat dwarsdeur jou kind se lewe ’n verreikende invloed gaan hê.

Eenvoudig gestel, geletterdheid is die vermoë om te lees, te skryf en die geskrewe woord te verstaan. Daar is ernstige gevolge vir ’n kind wat sukkel om te lees. Dis onvermydelik: ’n swak leser is dikwels ook ’n sukkelende leerder.

Die PIRLS-studie wat in 2006 gedoen is, was daarop gemik om die leesvermoë van kinders in 40 lande te vergelyk. Suid-Afrika het heel laaste geëindig in dié opname. Slegs 13% van ons Graad 4-leerders wat getoets is, kon die laagste aanvaarbare standaard bereik, vergeleke met 94% internasionaal.

’n Opvolgstudie in 2011 het bepaal dat Hong Kong wêreldwyd die beste standaard behaal het, en het getoon dat ons Graad 4-leerders “tydens ’n makliker assessering steeds algeheel op ’n laer vlak presteer as hulle internasionale eweknieë.”

Syfers soos hierdie is rede tot kommer. Maar hoekom is lees so ’n belangrike vaardigheid in ons moderne tyd? Omdat die voordele van goeie leesvaardigheid baie verder strek as die klaskamer.

Lees bou woordeskat

Lees help jou kind om nuwe woorde te leer en woordeskat op te bou. Benewens dit, ontwikkel kinders ook beter taalvaardighede wanneer hulle lees. Dink byvoorbeeld aan sinskonstruksie, grammatika en nuwe woorde wat nie deel vorm van die kind se alledaagse wêreld nie.

Lees help kinders ook om te verstaan hoe stories geskryf word, en dit beteken dat hoe meer hulle lees, hoe beter skryf hulle. Baie vakke, veral op hoërskoolvlak, vereis dat kinders opstelle moet kan skryf. Leerders wat goed skryf, behaal gewoonlik beter punte.

Lees verbeter konsentrasie

Lees is een van die min tydverdrywe wat altyd meer teruggee as wat ’n mens insit. Dit help kinders om beter te konsentreer en hul vermoë om te fokus te ontwikkel.

Ons moderne kinders word voortdurend oorweldig deur die klank, lig en beweging van elektroniese toestelle. Lees gee die brein dikwels ’n broodnodige ruskans.

Lesers spel beter

SMS-taal dra by tot ’n generasie met swak spelvaardighede. Lees en spelling gaan hand aan hand, want die een ontwikkel die ander.

In die hoër grade word punte afgetrek vir spelfoute, en korrekte spelling beteken dus beter punte. In die besigheidswêreld is spelfoute boonop onprofessioneel — en onthou, die speltoetsfunksie op ’n rekenaar is nie altyd volkome korrek nie.

Lees bevorder sosiale ontwikkeling

Vir ouers en kinderoppassers is leestyd ’n spesiale manier om daagliks kwaliteittyd saam met kinders deur te bring.

Boekklubs en storie-ure by biblioteke bring kinders uit verskillende groepe bymekaar. Hulle ontwikkel luistervaardighede en kry die geleentheid om te vertel wat hulle gehoor het, asook om hul eie menings met ander kinders in hul ouderdomsgroep te deel.

Woorde bly belangrik in ‘n digitale wêreld

Baie mense het gedink dat die ontstaan van die internet die einde van die geskrewe woord sou beteken, maar eintlik speel lees nou ’n nóg groter rol in ons lewe.

Woorde is boustene wat op alle vlakke van die lewe benodig word — van ’n brief aan ’n vriend skryf tot die voorbereiding van ’n skyfievertoning wat deur honderde kongresgangers verstaan moet word. Lees en skryf is onontbeerlik vir kommunikasie in ons tegnologiese eeu. Dink maar net aan die miljoene e-posse wat daagliks dwarsoor die wêreld gestuur word.

Digitale toestelle speel ’n belangrike rol in ons alledaagse lewe, maar ouers behoort hul kinders steeds aan te moedig om gedrukte boeke te lees. Digitale inligting het natuurlik voordele — onder andere dat dit oog-hand-koördinasie kan verbeter — maar om ’n boek vas te hou en bladsye om te slaan bied belangrike stimulasie vir kinders se tassintuig.

Wanneer kinders ’n boek lees, fokus hulle daarop om die inhoud te verstaan, eerder as om te wonder watter beeld die volgende klik op ’n skerm gaan oplewer.

Lees is die sleutel tot opvoeding en ‘n kwaliteit lewe

Lees is noodsaaklik vir leer en prestasie dwarsdeur kinders se skoolloopbaan en later ook op universiteit. Maar die voordele daarvan strek baie verder as akademiese sukses.

Entoesiastiese lesers beskik dikwels oor ’n uitstekende algemene kennis. Lees is oefening vir die brein — hoe méér jy lees, hoe beter lees jy.



 

Comment on Post

We love hearing from our community! Share your thoughts and experiences or ask questions. Your feedback helps us grow and support learners even better. Let’s engage, inspire, and learn together!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Empower Your Child

Reading, Maths & learning made easy

Edublox empowers your child to reach their full academic potential through unique intellectual skills development programmes.