Maak Jou Kind Só Lief vir Lees en Leer

“Ek haat lees! Ek wil nooit weer in my lewe ‘n boek lees nie!” Dis nie woorde wat ouers wil hoor nie, veral nie ouers wat die waarde van lees besef nie.

Lees is een van die belangrikste vaardighede wat aangeleer word, sê Louna Spies, eienaar van die Edublox-tak in die Paarl. Dis ‘n vaardigheid wat dwarsdeur jou kind se lewe verreikende gevolge gaan hê.

Lees bou jou kind se woordeskat en verbeter hulle taalvaardighede. Dink byvoorbeeld aan sinskonstruksie en goeie grammatika, asook nuwe woorde wat nie deel uitmaak van die kind se alledaagse wêreld nie.

Lees help kinders ook om agter te kom hoe stories geskryf word, en dit beteken dat hoe meer hulle lees, hoe beter skryf hulle. Baie vakke, veral op hoërskool-vlak, vereis dat kinders opstelle kan skryf. Dié wat goed skryf, kry vanselfsprekend beter punte.

“Dis die een tydverdryf wat altyd meer teruggee as wat mens insit,” sê Louna. “Dit leer kinders beter konsentreer en hulle ontwikkel die vermoë om te fokus. Ons hedendaagse kinders word so oorweldig deur elektroniese toestelle se klank, lig en beweging, dat lees hulle brein eintlik ‘n ruskansie gee.”

Terwyl lees noodsaaklik is vir leer en presteer dwarsdeur kinders se skoolloopbaan en op universiteit, sal dit ook hulle lewe buite die klaskamer verryk. Entoesiastiese lesers het gewoonlik ‘n uitstekende algemene kennis.

Goeie lesers is gewoonlik lief vir lees

“Die kans dat ‘n kind wat sukkel met lees van lees sal hou is klein,” sê Louna. “Die eerste stap is dus om seker te maak ‘n kind kan goed lees, en ook met begrip.”

Lizelle Joubert, ‘n mamma in die Paarl, beaam dit. Haar dogter het niks van lees gehou nie.

“Sy het altyd uitstekend in haar toetse en eksamens gevaar, maar ek moes ure en ure saam met haar sit en haar help. Dit het regtig baie lank geneem om deur haar werk te gaan en te leer, vertel Lizelle.

“Ek het ‘n afspraak by Edublox Paarl gemaak. Na die assessering was dit duidelik gewees dat sy intensiewe aandag nodig het. Sy het 2/9 (swak) vir die ESSI leestoets gekry.”

Haar dogter het ‘n intensiewe kursus bygewoon en daarna vir ‘n jaar een keer ‘n week Edublox-klasse bygewoon.

Louise* se lees het baie verbeter en haar geheue het verskerp. Sy moes van Graad 3 af ‘n bril dra om haar te help wanneer sy lees en van die bord afskryf. Na 120 uur se klasse is dit nie meer nodig om haar bril te dra nie. Haar lees het op die ESSI verbeter na 7/9 (goed).

“Groot was my verbasing toe ek een oggend in haar kamer in stap en sy lê en lees ‘n boek!” vertel Lizelle. “Toe ons met vakansie gegaan het, het sy vir haar boeke saamgeneem om te lees!

“Sy is meer gedissiplineerd as dit kom by leer en huiswerk. Ek hoef nie meer met haar te baklei om haar huiswerk te doen nie. Sy leer ook nou op haar eie.

“Edublox het Louise weer lus gemaak vir skool gaan en lees!”

Kontak Louna Spies by (021) 872-5040 of 072-510-2986 om jou kind lief te maak vir lees, besoek www.edubloxsa.co.za vir meer inligting oor Edublox-klasse of www.edubloxtutor.com vir inligting oor ‘Edublox Online Tutor.’ Die lees- en speloefening van ‘Edublox Online Tutor’ is ook in Afrikaans beskikbaar.

.

* Nie haar regte naam nie.

 

0 Responses on Maak Jou Kind Só Lief vir Lees en Leer"

Leave a Message

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Skip to toolbar