Harde Werk kan Lees- en Wiskunde Agterstand Laat Kwyn

Hierdie rubriek, verskaf deur Edublox, was gepos op Maroela-Media.co.za:

Hallo Sue,

Ons gr. 7-seun stel byna gladnie belang in skool nie. Sedert gr. 3 skuur hy elke jaar deur, want hy doen net genoeg om te slaag. Hy is beslis nie minder intelligent as sy broer en suster nie, maar hy het ʼn onblusbare liefde vir musiek en die meeste van die tyd is hy in sy kamer besig om kitaar te oefen of na musiek te luister. Sy argument was nog altyd dat hy ʼn musikant gaan word en daarom nie skoolvakke nodig het nie. Na die laaste oueraand het ons daarin geslaag om hom te oortuig dat skool belangrik is en dat ons sy musiek slegs sal ondersteun indien sy punte aansienlik verbeter. Die probleem is egter nou dat hy agtergeraak het. Sy onderwysers sê sy lees- en wiskundevaardighede is nie op dieselfde standaard as die res van sy groep nie. Sue, ons wil ons kind help om sy agterstand in the haal. Wat kan ons doen?

Amanda


Goeie dag Amanda,

Ek verstaan jul kommer en begryp ook hoe moeilik dit vir jul seun moet wees om ʼn balans te vind tussen sy liefde vir musiek en sy skoolwerk, maar ek glo dat hy met harde werk en toewyding sy lees- en wiskunde agterstand sal inhaal.

Daar is twee moontlike redes waarom jou seun se skoolwerk nou agter is. Die eerste is dat hy nie genoeg aandag daaraan gegee het nie en nou sit met ʼn kennisagterstand. Indien dit die geval is, sal eksta oefening in lees en wiskunde die probleem oplos. Om sy leesagterstand in te haal, sal hy baie moet lees. Hier is ʼn oefening wat julle byvoorbeeld kan doen: Neem hom biblioteek toe om boeke uit te neem waarin hy belangstel. Laat hom eens net kort paragrawe hardop voorlees, die boek toemaak en dan vertel wat hy gelees het. Maak die leesstukke langer en langer soos wat hy meer en meer kan onthou.

Wiskunde is ʼn vak wat in trappe aangeleer word en mens kan nie na die volgende trap oorgaan voordat jy nie die voorafgaande trappe behoorlik onder die knie het nie. Om sy wiskunde-agterstand in te haal, kan hy deur die vorige jare, bv. gr. 4, dan gr. 5 en dan gr. 6, se wiskundeboeke werk om seker te maak dat al die verlore kennis ingehaal is. Maak veral seker dat hy al die wiskundige terme, definisies en simbole goed ken.

Die tweede moontlikheid waarom jou seun se skoolwerk agter is, is as gevolg van ʼn vaardigheidsprobleem. Dit het niks te make met intelligensie nie, maar beteken bloot dat die vaardighede wat die boustene van lees, wiskunde en leer vorm, nie sterk genoeg is nie. Vaardighede soos visuele en ouditiewe persepsie, visuele en ouditiewe kort- en langtermyngeheue en logiese denke is voorbeelde van sodanige vaardighede. Omdat jou seun musikaal aangelê is, is sy ouditiewe vaardighede waarskynlik sterk, maar die visuele vaardighede is net so belangrik. Swak visuele persepsie en visuele geheue is ʼn algemene oorsaak van ʼn leesprobleem, sowel as van swak wiskunde-prestasie.

Indien jou seun se probleme veroorsaak word deur ʼn onderliggende vaardigheidsagterstand, sal baie lees en ektra wiskunde oefeninge nie die probleem oplos die. Om nie tyd te mors nie, sal dit dus goed wees om te begin met ʼn evaluasie om die oorsaak van sy agterstand te bepaal — het hy bloot ʼn kennisagterstand of dalk ʼn vaardigheidsprobleem?

Amanda, ek dink dis wonderlik dat jou kind ʼn talent het wat hy dan ook graag ontwikkel, maar dit sluit natuurlik nie ʼn goeie skoolopleiding uit nie. Sterkte met julle waardevolle leiding dat hy ʼn goeie balans kan handhaaf.

Alles van die beste.

Sue oor Skoolkwessies


Comment on Post

We love hearing from our community! Share your thoughts and experiences or ask questions. Your feedback helps us grow and support learners even better. Let’s engage, inspire, and learn together!

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Empower Your Child

Reading, Maths & learning made easy

Edublox empowers your child to reach their full academic potential through unique intellectual skills development programmes.