As Skool ‘n Kwessie Raak

Skool 'n KwessieDie nuwe skooljaar is op dreef, en of jou kind nou vir die eerste keer skool toe gaan of al op hoërskool is, daar is verskeie uitdagings. Maar elk kan oorwin word. Ons bespreek ‘n hand vol.

Hierdie artikel het verskyn in die Februarie 2015 uitgawe van Sarie. Die vraag oor leesprobleme is beantwoord deur Susan du Plessis van Edublox:

Die sweet tap my dogtertjie af as ons haar leeslessie moet deurlees en sy vermy boeke. Sy hou niks van lees nie. Wat moet ek maak?

Susan du Plessis, direkteur van die lees-en-leerkliniek Edublox (met takke landwyd), vergelyk lees met yshokkie: Jy moet eers leer ysskaats, dan kan jy met die stok begin speel, en dan in ‘n span. As jy dadelik net in die span speel, gaan jy dit nie regkry nie.

Kinders wat sukkel om te lees, selfs dislektiese kinders, het bloot iewers in die lees-leerproses ‘n trappie gemis en die gebrek aan daardie vaardigheid veroorsaak nou dat sy met die res sukkel. Dié trappies sluit konsentrasie, persepsie, geheue en logiese denke in. “Mense dink dis ongeneeslik, maar die brein is ongelooflik plasties. Dis soos ‘n spier wat jy oefen ― as jy byvoorbeeld ‘n nuwe taal leer, begin jou brein fisiek anders lyk. As jy weet hóé, kan jy enige leesprobleme takel ― dis dalk net harder werk vir sekere kinders.

“Sodra dié kinders kan lees, begin hulle glo in hulself en hul punte in alle vakke begin verbeter, en selfs dinge soos hul sportvermoëns!”

Jy moet jou kind so gou moontlik by ‘n kundige kry wat hiermee kan help, sê Susan, veral as die kind al ouer is. As ‘n kind nog voorskool is, kan mens só tuis help om leesprobleme te voorkom:

• Praat van kleins af baie met jou dogtertjie, en moenie babataal gebruik nie. Noem dinge op die naam, verduidelik wat jy doen en wat sy doen.

• Lees van kleins af vir haar voor, vra vrae oor die storie, en oefen rympies of sing liedjies saam.

• Laat jou kind op iets konsentreer, soos legkaart-bou. As haar aandag begin dwaal, moedig haar aan om ‘n bietjie langer aan te hou. ‘n Baba het ‘n aandagspan van net 2 sekondes, maar teen 6 jaar moet jou kind minstens 20 minute lank kan konsentreer.

• Laat sy gereeld buite speel. Studies wys kinders wat baie buite speel, kan beter konsentreer.

• Leer jou kind van kleins af om haar liggaamsdele te identifiseer: linkerhand en regterhand, linkervoet en regtervoet. Links en regs vat lank om te internaliseer en moet elke dag herhaal word.

• Speel speletjies met begrippe soos bo, links, regs, binne-in. Sê byvoorbeeld: “Sit die bal in die boks, en gaan staan dan langs die boks.”

0 Responses on As Skool 'n Kwessie Raak"

Leave a Message

Your email address will not be published. Required fields are marked *

Skip to toolbar