Hierdie rubriek is gepos op MaroelaMedia.co.za op 12 April 2016:
Liewe Susan,
Ons graad 2-seun tree op asof hy net nie in dieselfde huis as sy sussie grootword nie. Hy gee nie om waar hy wat ook al neersit en vergeet nie, en het sommer in die eerste week van verlede kwartaal sy skooltas met al sy nuwe goedjies vir die nuwe skooljaar net so buite die skoolhek laat staan en op die rugbyveld gaan speel terwyl hy vir sy ousus moes wag. Soms is hy so verstrooid soos die spreekwoordelike professor, doen dinge sonder logiese volgorde en ander kere sal hy ‘n sinnetjie begin sê en dit dan nie voltooi nie. Oor sy onderwyseres van verlede jaar se kommentaar wil ek nie eers praat nie, dit het ons eenvoudig net té seer gemaak. Maar ek verstaan ook dat dit seker vir haar moeilik was om hom in haar klas te hê. Ek weet mos hy is slordig en vergeetagtig en hy werk stadig.
Ons het intussen ‘n afspraak gemaak by ‘n opvoedkundige sielkundige, maar sy is so vol bespreek dat ons eers einde Mei by haar gaan uitkom. Hier is my eintlike kommer: Wat moet ons doen om hom te help sonder dat ons sy selfbeeld nog verder knou? Ek kan sien dat hy nie gelukkig is wanneer ons met hom raas nie en ek voel vrek skuldig na elke konfrontasie wat ek met hom het.
Help asseblief.
Onkundige Ma
Liewe Onkundige Ma,
Moenie te hard op jouself wees nie. Kinders kom nie met ‘n instruksieboek soos ‘n nuwe skottelgoedwasser nie, en ervaring wat ons met een kind aanleer, is nie noodwendig op ander kinders van toepassing nie. Jy noem spesifiek dat jy bekommerd is oor sy selfbeeld. Kom ons praat daaroor.
Ons het almal ‘n element van bang- en/of skuldig- en/of nikswerd-selfbeelde in ons, en dit hang van ouers en onderwysers, en eintlik alle belangrike beïnvloeders af, of kinders volwassenheid gaan bereik met ‘n positiewe prentjie van hulself, of ‘n swak selfbeeld wat baie van hulle besluite negatief gaan beïnvloed, sê funksionele terapeut, dr. Bertie Hanekom.
In die geval van ‘n kind wat herhaaldelik op die verkeerde manier tereggewys word, kan hy ‘n prentjie van homself begin ontwikkel wat primêr óf bang (vir byvoorbeeld foute maak) óf skuldig, óf nikswerd (minderwaardig) of sommer al drie is. Dis dít wat ons as ouers en onderwysers moet poog om te voorkom. Hier is ‘n lys van foute wat ons moet vermy, sowel as maniere om jou kind se selfbeeld te versorg. Dit geld sommer vir ons almal, of ons kinders nou met probleem-gedrag vorendag kom, of sommer net alledaagse foute maak:
Optrede wat ouers moet vermy
• Op so ‘n manier praat dat ons die kind verneder, of dit nou voor ander is, of wanneer jy en jou kind alleen is.
• Die kind laat voel asof niks wat hy doen ooit goed genoeg sal wees nie.
• Verkleinerende woorde gebruik soos byvoorbeeld “jou bobbejaan”, “sies vir jou”, “ou babatjie” ens.
• Jou kind skuldig te laat voel deur te verwys na al die honger kindertjies in Afrika wanneer hy nie sy kos opeet nie.
• Inkonsekwente eise aan die kind stel: Ouers kan nie vandag een vorm van gedrag afdwing en die volgende dag ‘n teenoorgestelde optrede goedkeur nie. Indien ons konsekwent is, sal die kind gou leer om die regte gewoonte aan te kweek en te hou by die huisreëls. Dit stel ook grense waarbinne die kind weet hy met veiligheid kan optree en dit gee hom sekuriteit.
• Eise stel wat bokant die kind se “vuurmaakplek” is, deur byvoorbeeld nie sy ouderdom, temperament of vaardigheidsvlak in ag neem nie.
• ‘n Kind te straf indien hy nie aan sulke onbillike eise voldoen nie.
• Die kind se kos wegneem en hom honger bed toe stuur net omdat hy nie tafelmaniere nakom nie.
• Aanhoudende druk op die kind uitoefen; ‘n soort magstryd met die kind aangaan tot hy/sy ingee.
• Op die kind skreeu; raas en skreeu en jou humeur verloor en/of die kamer uitstorm gaan net jou kind se gevoel van sekuriteit belemmer.
• Die kind dom of hulpeloos laat voel deur ‘n taak van hom af weg te neem as dit lyk of hy sukkel.
• Die kind kritiseer.
Liefdevolle optrede
• Konsentreer op die kind se positiewe gedrag, wys dat jy dit raaksien, komplimenteer hom en moedig dit aan.
• Indien daar sommer heelwat is wat moet verbeter, begin met een ding en maak seker dit is goed vasgelê voor jy met die volgende begin. Voorbeeld: begin met tafelmaniere en maak seker die kind se tafelgedrag is outomaties korrek voor jy begin met speelgoed optel of goeie maniere teenoor kuiergaste; wanneer goeie gedrag ge-outomatiseer is, onthou om dit te versterk deur hom so af en toe te prys of te beloon.
• Hou die kind se ouderdom en vaardigheidvlakke in gedagte voor jy vir hom nuwe gedrag wil aanleer.
• Inoefening is belangrik; maak tyd en skep geleenthede waar jou kind rustig sy nuwe gedrag kan oefen. Doen dit speel-speel: dis nie veronderstel om straf te wees nie.
• Jou voorbeeld moet getuig van kalmte en volwassenheid.
• Indien jou kind sukkel om ’n reeks opdragte uit te voer, begin met een opdrag en vermeerder dit eers na twee opdragte indien hy een opdrag onmiddellik en korrek uitvoer.
• Dis ook belangrik dat jou kind leer om onafhanklik op te tree; die versoeking om alles wat hy doen te kontroleer is moontlik sterk, maar los hom om self dinge te doen.
• Eerlikheid en openheid tussen jou en jou kind is nie onderhandelbaar nie, en daarom moet jou kind nie bang wees vir jou nie. Hy/sy moet altyd die vrymoedigheid hê op eerlik teenoor jou te wees.
• Voeding is belangrik. Maak seker jou kind eet gesonde kos en dat hy/sy fisiek gesond is.
• Dis baie belangrik vir jou kind se selfbeeld om nie op skool akademies agter te raak by sy klasmaats nie; indien oueraande, huiswerk, take en rapporte vir jou ’n nagmerrie is, laat jou kind behoorlik toets en maak seker hy/sy kry die nodige hulp.
• Baie liefde is baie belangrik; jou kind moet weet, maak nie saak wat hy doen of nie doen nie, jy het hom onvoorwaardelik lief en dit sal nooit verander nie.
Sterkte en geniet jou kinders,
Susan oor Skoolkwessies
Vra vir Susan oor Skoolkwessies:
Is jy bekommerd oor jou kind se skoolprestasie? Stuur jou vrae aan skoolkwessies@edublox.com Probeer om soveel moontlik besonderhede te verskaf, sowel as jou kind se ouderdom en graad. Gebruik jou eie naam of ‘n skuilnaam as jy verkies om jou identiteit geheim te hou.
Meer oor Susan:
Susan du Plessis is ‘n opvoedkundige spesialis en gepubliseerde skrywer op die gebied van leerprobleme en disleksie, met meer as 25 jaar se praktiese ondervinding. Sy het ‘n BA Honneursgraad in Sielkunde sowel as ‘n BD-graad aan die Universiteit van Pretoria verwerf, en die eerste Edublox Lees-, Wiskunde en Leerkliniek in 2007 geopen. Vandag is daar 25 Edublox-klinieke in Suidelike Afrika. Besoek die Edublox-webtuiste met meer as 480 suksesverhale by www.edubloxsa.co.za
Goeiedag Susan
Ek het ‘n 18jarige seun, in Gr12. Hy is in ‘n mate gehoorsaam ek moet 2keer praat oor ‘n opdrag om te doen bv in die huis. Hy hou van musiek, bespeel die keyboard, dromme en base ghitar. Hy het bv i windjie gelaat en as ek vra wie dit was, sal hy effe glimlag en sê dat dit nie hy is nie, sal altyd ander blameer. Hy erken selde dat hy i fout gemaak het of jammer sê, terwyl ons as ouers hom dit inskerp. Ek sukkel met hom, tov om te leer. Hy sal bv vir my sê hy het by die skool geleer, en sal nie regtig uit sy eie sy boeke vat alvorens ek vra of sê hy moet gaan leer. Sy punte is van so aard hy slaag net net of miskien in 1vak dalk 50%. Hy het Wiskunde, Lewensorientering, Lewenswetenskappe, RTT, Engels en Afrikaans. Hy weet nou nog nie watter rigting hy volgende jaar wil gaan nie. Ons kry vir hom die beste hulp(ekstrasse klasse)privaat maar aan die einde van die kwartaal met sy uitslae, is daar nie resultate nie. Hy wend nie i poging aan om ekstra harder te werk nie, soos bv los die rekenaar of tv kyk en vat sy boeke, nee hy doen nie. Praat ek met hom, blaas hy sy mond op. Ons wil graag die beste vir hom hê, ons ondersteun hom, stel belang in sy doen en late, sou hy praat vat hy so lank om sy te verduidelik. Ek sal altyd sê hy moet vrymoedigheid hê om met ons as ouers te praat, en ons sal altyd vir hom sê ons is lief vir hom.
Sal graag hoor wat Susan my kan aanbied omtrent raad.