Die meeste ouers kan skaars wag vir hulle baba om sy eerste woorde te sê. Dit gebeur gewoonlik tussen nege maande en ‘n jaar. Vanaf omtrent twee jaar behoort hy sy eerste sinne te begin gebruik, en teen drie jaar behoort hy reeds vol sinne te begin praat. Teen die ouderdom van vier behoort hy heeltemal goed te kan praat, alhoewel hy nog bepaalde grammatikale foute mag begaan. Teen vyf behoort hy basiese taal te bemeester het.
Daar is min twyfel dat taalontwikkeling een van die sleutel-mylpale in vroeë kinderontwikkeling is. Baie van ‘n kind se toekomstige sosiale en intellektuele ontwikkeling hang van hierdie mylpaal af. ‘n Taalagterstand kan lei tot isolasie en dat die kind homself onttrek, asook tot leerprobleme en swak akademiese prestasie.
Navorsing het bewys dat daar ‘n noue verband tussen gesproke taal en leerprobleme soos disleksie is. Volgens professor Beve Hornsby, skrywer van Overcoming Dyslexia, het soveel as 60% van disleksielyers laat begin praat.
Nie ‘n outomatiese proses
Baie ouers glo die term taalontwikkeling impliseer dat die verwerwing van taal ‘n natuurlike of outomatiese proses is. Dit is egter nie die geval nie. Daar is niks wat enige mens weet of kan doen wat hy nie geleer het nie. Dit is veral waar van taal.
Die kind begin om taal te leer vanaf die dag wat hy gebore word. Reeds vanaf geboorte is dit die ouers se verantwoordelikheid om ‘n behoorlike fondament te lê sodat die kind taalvaardighede kan verwerf. Net soos ouers moet verseker dat ‘n kind ‘n gesonde en gebalanseerde dieët volg vir optimale fisiese ontwikkeling, moet hulle sorg vir optimale taalontwikkeling.
Hoe taalontwikkeling plaasvind
Ouers behoort met hulle baba te begin praat vanaf die dag dat hy gebore word. Sommige moeders is stil en teruggetrokke van geaardheid. Ander dink weer dit is belaglik om met hulle klein babas te praat aangesien hulle nog nie verstaan nie. Die moeder wat nie aanhoudend met haar baba praat terwyl sy hom voed, bad en aantrek nie, lê daarmee die grondslag vir ‘n laat prater.
Die baba leer taal net op een manier, en dit is deurdat die ouers met hom praat en praat en praat. Hoe meer die ouer met sy kind praat, en dikwels dieselfde woorde, dieselfde sinsnedes, dieselfde strukture oor en oor herhaal, hoe gouer sal die kind taalgebruik leer.
‘n Belangrike punt om hier te onthou is dat, teen die tyd dat die kind omtrent nege maande is, hy eenvoudige woorde en bevele behoort te verstaan. Hy mag ook moontlik ‘n paar eenvoudige woorde reeds kan sê. Sonder uitsondering vind ‘n mens egter dat die kind baie meer verstaan as wat hy self in staat is om te sê. Dit bly inderwaarheid so dwarsdeur ‘n mens se lewe. ‘n Mens kan altyd meer verstaan van enige taal as wat jy in aktiewe spraak of skrif kan gebruik, selfs in jou eie moedertaal. Dit is selfs meer waar van enige tweede of derde taal wat ‘n mens leer praat.
Dit bewys dat ons twee min of meer afsonderlike brokke taalkennis het, ons passiewe kennis aan die een kant en ons aktiewe kennis aan die ander. Wanneer ons luister of lees, maak ons gebruik van ons passiewe woordeskat, en wanneer ons praat of skryf, van ons aktiewe woordeskat.
Dit is belangrik om in hierdie stadium daarop te let dat die kind se passiewe woordeskat daargestel is deur die voortdurende herhaling van woorde, sinsnedes en strukture. Sodra ‘n woord, ‘n sinsnede of ‘n taalstruktuur genoeg kere herhaal is, word dit ook deel van die aktiewe woordeskat. Dit beteken dat die aktiewe woordeskat slegs via die passiewe verbeter kan word. Volgens professor Beve Hornsby is daar gevind dat ‘n kind wat net begin leer om te praat, ‘n woord ongeveer 500 keer moet hoor voordat dit deel van sy aktiewe woordeskat sal word. Lank voor hierdie tyd sal dit reeds deel van sy passiewe woordeskat wees.
Dit beteken dat ouers soveel moontlik geleenthede moet skep vir hulle baba om hulle te hoor praat.
Die geheim van lees
Behalwe om soveel as moontlik met ‘n kind te praat, moet ouers ook so dikwels as moontlik vir hulle kinders lees. Die geheim, volgens kundiges, wat sal lei tot optimale taalontwikkeling, is om dieselfde storie(s) oor en oor en oor te lees. Dieselfde storie(s) is die geheim.
Wanneer ‘n kind ouer is, behoort mens ook vir hom rympies te leer. Navorsing het bevind dat die kennis van kleuter-rympies op die ouderdom van drie ‘n betekenisvolle verskil maak in ‘n kind se leesvermoë.
Onthou:
Terwyl ‘n appel ‘n dag die dokter laat wag,
Is baie praat goue raad.
0 Responses on Praat Jou Kind Slim"