Stel jou voor dat jy nie kan lees nie. Jou akademiese loopbaan sal nie verder gaan as hoërskool nie, wat jou kanse om jou ooit op te werk in die wêreld ernstig sal kniehalter.
Aangesien jy nie ‘n aansoekvorm kan invul nie, sal jy nooit sonder hulp kan aansoek doen vir ‘n werk nie. Jy sal nie met vriende kan korrespondeer nie, vir jou plesier kan lees of jou kinders met slaaptydstories bederf nie. Jy sal nie padtekens, die instruksies op ‘n medisynebottel, of die spyskaart in ‘n restaurant kan lees nie. In ‘n lesende wêreld sal jy dus eintlik ernstig gestremd wees.
Ongelukkig is leesprobleme ‘n werklikheid. Baie kinders sukkel om te leer lees, en baie slaag nooit daarin nie.
Die Nasionale Assessering van Opvoedkundige Vooruitgang (NAOV), ook bekend as Die Nasie se Verslagkaart, is ‘n volgehoue, verteenwoordigende assessering van wat Amerikaanse studente weet en kan doen in verskeie vakke. In November 2011 het die NAOV die leesresultate vir 2011 vir Graad-4- en Graad-8-leerders vrygestel. Die resultate: ongeveer twee derdes van hierdie studente se lees was nie op graadvlak nie. Met punte gelyk aan die basiese of laer as die basiese vlak, kon hierdie studente nie die betekenis van ‘n woord in konteks interpreteer nie, relevante inligting opspoor, eenvoudige afleidings maak, of hulle begrip van die teks gebruik om besonderhede te identifiseer wat ‘n sekere interpretasie of gevolgtrekking kon bevestig nie.
Die Wêreld Geletterdheidstigting het berig dat een uit elke vyf lede van die Britse bevolking so swak lees en skryf dat hulle sukkel om ‘n medisyne-etiket te lees of ‘n tjekboek te gebruik. Volgens navorsing kos hierdie vlak van ongeletterdheid die VK se ekonomie £81 biljoen per jaar aan verlore verdienste en groeiende welsynsuitgawes.
Die 2006 internasionale Volwasse Geletterdheid en Lewensvaardighede-opname toon dat ongeveer 40% van werknemers en 60% van werklose Australiërs swak of baie swak geletterdheids- en syfervaardighede het.
Volgehoue leesmislukking lei tot angs, verleentheid en frustrasie. “Reeds teen die einde van Graad 1 begin kinders wat moeilik leer lees minder positief oor hulself voel as toe hulle met skool begin het,” sê Dr G Reid Lyon, ‘n gewese navorser van die Nasionale Instituut vir Gesondheid (NIG) van die VSA. “Soos ons kinders volg deur laer- en hoërskooljare verswak hulle selfvertroue en die motivering om te lees selfs verder.”
“Skooluitsakkers, tienerswangerskappe, swak akademiese prestasie, misdaad — dit alles is uiteindelike gevolge van die onvermoë om te leer lees,” vervolg Lyon. Meer as drie dekades se navorsing deur die NIG het bevind dat uit die 10% tot 15% van kinders wat skool voortydig verlaat, meer as 75% leesprobleme het.
Navorsing het bewys dat daar ‘n noue verband is tussen ongeletterdheid en misdaad. Volgens die VSA se Departement van Onderwys het 85% van alle jeugmisdadigers leesprobleme. In die volwasse bevolking is 60% van alle gevangenes funksioneel ongeletterd, wat beteken dat hulle nie goed genoeg kan lees of skryf om aan die daaglikse lewensvereistes te voldoen nie.
Aan die ander kant word sterk leesvaardighede aan baie persoonlike, sosiale en ekonomiese voordele gekoppel. Volgens navorsing wat in die Psychological Science gepubliseer is, kan leesvermoë op ouderdom sewe gekoppel word aan sosio-ekonomiese status verskeie dekades later.
Deur meer as 17 000 mense in Engeland, Skotland en Wallis te volg oor ‘n tydperk van ongeveer 50 jaar (vanaf geboorte in 1958 tot vandag), het Stuart Ritchie en Timothy Bates van die Universiteit van Edinburgh gevind dat deelnemers se lees- en wiskundige vermoë op sewe gekoppel is aan hulle sosiale klas ‘n volle 35 jaar later. Deelnemers wat beter lees- en wiskundige vermoëns gehad het as kinders, het later hoër inkomstes, beter behuising en beter werk gehad as volwassenes. Die data dui byvoorbeeld daarop dat een leesvlak hoër op ouderdom sewe geassosieer is met ‘n toename van £5 000 (ongeveer $7 750) aan inkomste op ouderdom 42.
“Hierdie bevindinge impliseer dat basiese vaardighede in die kinderjare, ongeag hoe slim jy is, hoe lank jy op skool was, of die sosiale klas waarin jy begin het, regdeur jou lewe belangrik sal wees,” verklaar Ritchie en Bates.
Edublox kan help om die golf van ongeletterdheid te keer deur jong kinders te leer om te lees, asook om kinders sowel as volwassenes te help om matige tot ernstige leesprobleme te bowe te kom. Die doeltreffendheid van Edublox-programme is daaraan te danke dat hulle gebaseer is op universele leerbeginsels, eerder as op individuele leerstyle of persoonlike leervoorkeure.
Edublox-programme is op drie fundamentele beginsels gebaseer:
Leer is ‘n laagsgewyse gebeure
Die eerste universele leerbeginsel is dat die menslike leerproses nie op ‘n enkele vlak plaasvind nie, maar laagsgewys is. Dit word wêreldwyd as ‘n didaktiese beginsel aanvaar. Regdeur die wêreld, in uiteenlopende opvoedkundige stelsels, word dit algemeen aanvaar dat ‘n kind by die laer vlakke van opvoeding moet begin en dan geleidelik na die hoër vlakke moet vorder.
As leer by die mens nie ‘n laagsgewyse gebeure was nie, maar op ‘n enkele vlak geskied het, sou dit onnodig gewees het. Dit sou dan nie belangrik gewees het om ‘n kind by die eerste graad te laat begin nie. In werklikheid sou dit moontlik gewees het vir ‘n kind om op enige vlak in die skool te begin en sy skooljare in enige volgorde te voltooi.
‘n Praktiese voorbeeld is die feit dat ‘n mens eers moet leer tel voordat dit moontlik is om rekenkunde te doen. Gestel ‘n mens probeer om ‘n kind, wat nog nie geleer tel het nie, te leer om op te tel en af te trek. Dit sal heeltemal onmoontlik wees, en geen hoeveelheid moeite sal die kind suksesvol leer optel en aftrek nie. Dit illustreer dat tel ‘n vaardigheid is wat bemeester moet word voordat dit moontlik is om te leer om berekenings te doen.
Op dieselfde manier is daar sekere vaardighede en kennis wat ‘n kind moet verwerf voordat dit vir hom moontlik word om voordeel te trek uit ‘n leeskursus.
Die hoofdoel van Edublox-programme is om die vaardighede wat onderliggend is aan lees te oefen en te outomatiseer. Fundamentele leesvaardighede bestaan uit kognitiewe vaardighede soos verdeelde aandag, interpretasie van posisie-in-die-ruimte, vormherkenning, prosesseringspoed, en visuele, ouditiewe, reeks- en werkende geheue.
Outomatisme is die resultaat van herhaling en oefening
Die verwerwing van ‘n nuwe vaardigheid word gewoonlik geassosieer met ‘n afname van inspanning wanneer die nuwe vaardigheid uitgevoer word, wat lei tot die ontwikkeling van outomatisme. Outomatisme word per definisie bereik wanneer die uitvoering van ‘n primêre taak minimaal beïnvloed word deur ander deurlopende take. Mense verwys dikwels na outomatisme deur te sê hulle kan die taak “met toe oë” of “in my slaap” doen.
Voorbeelde van outomatisme is algemene aktiwiteite soos loop, fietsry, motorbestuur en praat. Enige persoon wat ‘n taal praat wat hy goed ken, konsentreer nie op woordeskat of sinskonstruksie of grammatika nie. Sy gedagtes is gefokus op wat hy wil sê. Soos verduidelik word in die Journal of Learning Disabilities, “as die vaardigheid vir die primêre taak geoutomatiseer is, sal dit nie belemmer word deur die gelyktydige prosessering van die sekondêre taak nie, want outomatiese prosessering maak nie gebruik van aandaghulpbronne nie.”
Wanneer, daarenteen, die vaardigheid nie geoutomatiseer is nie, sal dit versteur word deur gelyktydige verwerking van ‘n tweede vaardigheid, omdat twee vaardighede dan kompeteer vir beperkte aandaghulpbronne. Wanneer ‘n persoon dus probeer om ‘n taal te praat waarin hy nog nie vlot of ‘outomaties’ is nie, sal hy noodwendig sy aandag moet verdeel tussen die inhoud van sy boodskap en die taal self. Hy sal dus gebrekkig en moeisaam praat.
Dit geld ook vir die leesaksie. Die persoon, in wie die grondvaardighede van lees nog nie geoutomatiseer het nie, sal gebrekkig en moeisaam lees. Die arme leser word gedwing om al sy konsentrasie toe te spits op woordherkenning, en daarom het hy “geen konsentrasie oor” vir die inhoud nie. Gevolglik sal hy nie in staat wees om met begrip te lees nie.
Outomatisme is gewoonlik die resultaat van leer, herhaling en oefening. Die hoofproses waardeur ons outomatisme ontwikkel, word oorleer genoem. Oorleer is ‘n pedagogiese konsep waardeur nuutverworwe vaardighede geoefen moet word tot ver verby die punt van aanvanklike bemeestering, wat dan lei tot outomatisme.
Oorleer is ‘n gereedskap wat dikwels gebruik word deur mense wat gehore moet toespreek of in die openbaar moet optree. ‘n Vioolspeler, byvoorbeeld, hou nie op oefen wanneer hy ‘n musiekstuk bemeester het nie. In plaas daarvan gaan hy aan om daardie stuk te oefen totdat dit outomaties raak en die kans skraal is dat hy dit sal vergeet as hy voor ‘n groot skare moet optree. Net so kan akteurs, dansers en ander musikante hulle senuwees kalmeer deur hulle stukke te oorleer. Hulle kan dus hulle optrede verbeter deur voort te gaan om te oefen verby die punt van memorisering van reëls, passies of musieknote.
Geleenthede vir toepassing is die sleutel tot sukses
Die derde belangrike leerbeginsel is dat daar geleenthede moet wees vir toepassing. Selfs terwyl ‘n kind nog die vaardighede leer wat die basis van lees vorm, moet hy geleenthede gegee word om hierdie vaardighede toe te pas deur te lees.
‘n Belangrike punt is dat hierdie drie fundamentele leerbeginsels as ‘n geheel gesien moet word, en nie in isolasie nie. Enige tuinier sal jou dieselfde ding vertel: dit is die wisselwerking tussen die hoeveelheid water, sonlig en bemesting wat sal veroorsaak dat ‘n boom groot, sappige vrugte dra. As jy die boom eers water gee ses weke na jy die bemesting in die grond ingewerk het, gaan jy heel waarskynlik teruggaan na ‘n verdroogde boom.
0 Responses on Die ABC van ‘n Doeltreffende Leesmetode"