- Wat is disleksie?
- Is omkerings die enigste kenmerk van disleksie?
- Hoe lyk disleksie?
- Hoeveel mense het disleksie?
- Wat is die emosionele impak van disleksie?
- Is disleksie ongeneeslik?
- Wat veroorsaak disleksie?
- Jy sê disleksie word veroorsaak deur ‘n tekort aan vaardighede. Watter vaardighede is ter sprake?
- Is disleksie dan nie oorerflik nie?
- Het Einstein disleksie gehad?
- Kan Edublox disleksie ophef?
Wat is disleksie?
Die woord disleksie kom van twee Griekse woorde: dys, wat “moeilikheid” beteken, en lexis, wat “taal” of “woorde” beteken. Letterlik vertaal beteken dit dus “moeilikheid met taal”. Vandag gebruik ons die term om te verwys na kinders en volwassenes vir wie lees, en dikwels ook spel en skryf, ’n voortdurende uitdaging is.
Disleksie is nie ’n teken van luiheid of ’n gebrek aan intelligensie nie. Inteendeel, baie mense met disleksie het ’n gemiddelde of selfs bogemiddelde IK, maar sukkel om vloeiend te lees of woorde korrek te spel.
Vir baie jare het mense geglo dat disleksie hoofsaaklik deur ’n fisiese versteuring in die brein veroorsaak word — dat die brein inligting verkeerd verwerk of interpreteer, wat dan tot leesprobleme lei. Hierdie siening het daartoe gelei dat die disleksie-etiket meestal toegeken is aan leerders met ’n gemiddelde of bogemiddelde IK wat, ten spyte van goeie onderrig en leergeleenthede, steeds sukkel om te lees.
Kinders met soortgelyke leesprobleme, maar met ’n laer IK, is dikwels uitgesluit en hulle leesprobleme is verkeerdelik toegeskryf aan hul intellektuele vermoë. Vandag verstaan ons beter: disleksie kom in verskillende vorme voor, en die oorsake is meer kompleks as wat vroeër gedink is.
Een van die algemene simptome van disleksie is die omkering van letters soos b en d, of p en q. ’n Leerling kan byvoorbeeld tak lees in plaas van kat, of sak skryf in plaas van kas.
Is omkerings die enigste kenmerk van disleksie?
Beslis nie. Baie kinders en volwassenes wat met disleksie gediagnoseer word, maak glad nie omkerings nie. Omkerings — soos om b en d te verwar — is slegs een van baie moontlike kenmerke van disleksie.
Hier is ’n lys van ander algemene simptome van disleksie:
- Weglating van letters of klanke: Die kind lees of skryf byvoorbeeld staf in plaas van straf.
- Verkeerde volgorde van letters: Lees of skryf emelent vir element, snik vir niks, of tekel vir ketel.
- Klein woordjies word verkeerd gelees: Lees ’n in plaas van nie, vir in plaas van van, of met in plaas van meer.
- Verloor plek op die bladsy: Raak gedisoriënteerd met ’n reël, mis reëls of herhaal reeds geleesde dele.
- Hardoplees is hakkelrig en monotoon: Lees woord vir woord, sonder natuurlike vloei.
- Klank maar herken nie die woord nie: Klank k-a-t maar sê dan koud.
- Verkeerde uitspraak of klem: Sê woorde verkeerd of plaas die klem op die verkeerde lettergreep.
- Verkort woorde: Lees porsie in plaas van proporsie.
- Laat voor- of agtervoegsels uit: Lees byvoorbeeld sleg in plaas van slegte, of voeg selfs verkeerde agtervoegsels by.
- Swak leesbegrip: Verstaan of onthou min van wat gelees is.
- Swak klank-letter-assosiasie: Stryd om die regte letter by ’n gegewe klank te pas.
- Ignoreer leestekens: Lees sonder om by kommas en punte te stop, wat sin en begrip belemmer.
Hierdie tekens verskil van kind tot kind. Sommige ervaar net ’n paar, ander vele. Disleksie is dus nie ’n eenvormige toestand nie, maar ’n reeks simptome wat op verskillende maniere manifesteer.
Hoe lyk disleksie?
Disleksie manifesteer nie altyd op dieselfde manier nie. Sommige kinders se handskrif kan byvoorbeeld onreëlmatig of moeilik leesbaar wees, terwyl ander mooi skryf maar steeds lees- en spelprobleme ervaar.
Hieronder is voorbeelde van die handskrif van ’n graad 1-leerder, ’n graad 4-leerder, en ’n volwassene met ’n ligte graad van disleksie.


Hoeveel mense het disleksie?
Die antwoord hang af van hoe disleksie gedefinieer word. Omdat daar verskillende kriteria en toetse gebruik word, verskil die skattings dramaties — van soveel as 3% tot soveel as 40% van die bevolking.
Die mees algemene skatting wat wêreldwyd aanvaar word, is dat ongeveer 10% van mense in ’n mate aan disleksie ly — dit beteken een uit elke tien leerders ervaar beduidende leesuitdagings, selfs met goeie onderrig.
Wat is die emosionele impak van disleksie?
Disleksie is nie net ’n akademiese uitdaging nie — dit raak die hele mens. Baie kinders beleef dit as verwarrend en uiters frustrerend. ’n Leerling kan intelligent en nuuskierig wees, die vakinhoud goed verstaan, maar steeds sukkel om toetse en eksamens te slaag, bloot omdat lees en skryf ’n struikelblok is.
Wanneer hierdie pogings telkens misluk, en wanneer onderwysers nie altyd opgelei is om disleksie te herken of reg te hanteer nie, voel die kind gou verneder, gefrustreerd en ontmoedig. Spot, kritiek of onregverdige straf laat emosionele wonde. Baie kinders begin angs ontwikkel en trek hulself terug, of probeer oorkompenseer deur perfeksionisme of uitermatige prestasie op ander gebiede.
In ’n studie oor die emosionele impak van disleksie het Janis Edwards bevind dat kinders dikwels hul frustrasie uitdruk deur skool te vermy, stokkies te draai of weerstand te bied teen leeraktiwiteite. Hulle voel afgesonder, minderwaardig en soms hopeloos. Hierdie gevoelens kan groei tot lae selfbeeld en selfs depressie. Met verloop van tyd kan hierdie emosionele spanning uitloop op gedragsprobleme soos aggressie, bakleiery, klasontwrigting, vyandigheid teenoor onderwysers of vandalisme.
Die gevolge van onbehandelde disleksie strek dikwels ver buite die skoolmure. Navorsing toon dat daar ’n sterk verband is tussen ongeletterdheid en maatskaplike probleme. Volgens die VSA se Departement van Onderwys het 85% van alle jeugmisdadigers ernstige leesprobleme, en sowat 60% van volwassenes in gevangenisse is funksioneel ongeletterd — hulle kan dus nie voldoende lees of skryf om alledaagse take te hanteer nie.
Hierdie statistiek beklemtoon hoe belangrik dit is om disleksie vroeg te identifiseer en effektief te ondersteun — nie net vir akademiese sukses nie, maar vir emosionele gesondheid, selfvertroue en ’n hoopvolle toekoms.
Is disleksie ongeneeslik?
Daar is geen pil, oogoefeninge of spesiale bril wat disleksie kan genees nie. Disleksie verdwyn nie vanself nie, maar dit kan wél oorkom word. Met intensiewe, doelgerigte hulpverlening kan die simptome van disleksie beduidend verminder — en selfs sekere breinverskille normaliseer.
Vir baie jare het mense geglo dat as daar iets verkeerd is met die brein, niks daaraan gedoen kan word nie. Wetenskaplikes het geglo dat elke mens gebore word met ’n vasgestelde aantal breinselle, en dat enige skade onherstelbaar is.
Maar hierdie siening het verander. Teen die begin van die 21ste eeu het nuwe tegnologieë, soos gevorderde breinskanderings, gewys dat die brein plasties is — dit kan aanpas en verander. Nuwe verbindinge (sinapse) tussen breinselle kan vorm, en die struktuur van bestaande verbindings kan verander. Nuwe neurone word selfs voortdurend gebore, veral in die leer- en geheuegebiede van die brein.
Navorsing toon dat as ’n persoon ’n vaardigheid intensief oefen, die deel van die brein wat daarmee verband hou, fisies groei. Selfs wanneer ’n mens breinskade aan die linkerkant van die brein opdoen — die area wat tipies vir taalverwerking verantwoordelik is — kan die regterkant van die brein leer om daardie funksies oor te neem.
Hierdie verskynsel, bekend as neuroplastisiteit, wys dat die brein kan verander met die regte onderrig en opleiding. Daarom is disleksie nie onveranderlik nie — die simptome kan oorbrug word wanneer die onderliggende kognitiewe vaardighede versterk word en leesonderrig gestruktureerd en volgehou plaasvind.
Is disleksie ongeneeslik? (Vervolg)
Met behulp van moderne tegnologie soos fMRI-skanderings is bevestig dat daar wel verskille is tussen die breine van mense met disleksie en dié wat goed kan lees. Dit is iets wat wetenskaplikes lank vermoed het. Wat interessant is, is dat dieselfde breinverskille ook by swak lesers met ’n laer IK voorkom. Dit dui daarop dat IK nie ’n geldige maatstaf is vir die diagnose van disleksie nie — die verskille in die brein hou dus eerder verband met leeservaring as met intelligensie.
Navorsing begin nou wys dat ons dalk die oorsaak-en-gevolg verhouding moet omdraai. Met ander woorde: hierdie breinverskille is moontlik nie die oorsaak van leesprobleme nie, maar eerder die gevolg daarvan.
’n Studie wat in die Journal of Neuroscience gepubliseer is, het die breine van drie groepe kinders vergelyk:
- kinders met disleksie,
- kinders van dieselfde ouderdom sonder disleksie, en
- jonger kinders wat op dieselfde leesvlak is as dié met disleksie.
Die bevinding was dat kinders met disleksie minder grysstof in sekere dele van die brein het as ander kinders van hulle ouderdom, maar dieselfde hoeveelheid grysstof as die jonger kinders op dieselfde leesvlak. Volgens hoofnavorser Krafnick dui dit daarop dat die anatomiese verskille in die linkerkant van die brein ’n gevolg van leeservaring is, eerder as ’n oorsaak van disleksie.
Wat beteken dit?
Die brein van ’n persoon met disleksie — en van ander swak lesers — lyk anders as die brein van iemand wat goed lees. Maar hierdie verskille is nie noodwendig aangebore nie. Hulle kan ontstaan weens ’n gebrek aan leeservaring, en hulle kan verander namate ’n persoon beter leer lees. Met ander woorde, as iemand met disleksie doelgerigte leesonderrig en kognitiewe ondersteuning ontvang, pas die brein aan — en begin soos die brein van ’n tipiese leser lyk.
Selfs al sou daar in ’n breindisfunksie wees wat bydra tot die probleem, weet ons vandag dat die brein kan herstel danksy neuroplastisiteit — sy vermoë om nuwe verbindings te vorm en funksies oor te neem.
Edublox se standpunt
Gebaseer op die nuutste navorsing glo Edublox dat disleksie nie ’n permanente gestremdheid, maar ’n onvermoë wat oorkom kan word. Wanneer ons die onderliggende oorsake aanspreek, verander die brein en lees word moontlik.
Wat veroorsaak disleksie?
Om ’n kind met disleksie te verstaan, moet ons weet dat leer ’n stapsgewyse proses is. ’n Mens kan niks doen wat jy nie eers geleer het nie — elke nuwe vaardigheid bou op vorige vaardighede. Dis soos om ’n leer te klim: jy kan nie by sportjie tien begin nie; jy moet onder begin en vlak vir vlak vorder.
In die skool werk dit net so. ’n Kind begin in graad een, bemeester die leerinhoud, en gaan dan na ’n volgende graad. Sonder die grondslag van een jaar, sukkel hulle met die volgende. Dieselfde geld vir wiskunde, en selfs vir rugby: ’n Kind moet eers leer tel voor hy kan optel en aftrek; sonder dié vaardigheid is verdere leer onmoontlik. Rugbyspelers moet eers leer om ‘n rugbybal te vang, gooi en skop voordat hulle die spel self kan bemeester.
Net so bou lees en spel op verskeie voorvereiste vaardighede. ’n Kind moet eers sekere grondvaardighede aanleer voordat lees moontlik word. As hierdie vaardighede nie vasgelê is nie, ontstaan probleme soos disleksie.
Jy sê disleksie word veroorsaak deur ‘n tekort aan vaardighede. Watter vaardighede is ter sprake?
Terwyl taalvaardigheid die onderste sportjie van die leesleer is, is kognitiewe vaardighede die volgende een. Daar is ’n hele klomp kognitiewe vaardighede wat onontbeerlik is vir lees en spel:
AANDAG
Aandag, of konsentrasie, speel ‘n krities belangrike rol in leer. Gefokusde aandag is die vermoë om selektief op een aspek van die omgewing te konsentreer terwyl ander dinge geïgnoreer word. Volgehoue aandag verwys na die vermoë om oor tyd jou aandag te fokus.
VISUELE PROSESSERING
Visuele prosessering verwys na die vermoë om sin te maak uit die inligting wat ons sien. Dis anders as probleme wat sig of visie insluit. Probleme met visuele prosessering affekteer die interpretasie of verwerking van dit wat ons met ons oë waarneem. ’n Kind met visuele prosesseringsprobleme mag 20/20-visie hê, maar sukkel om te onderskei tussen voorgrond-agtergrond, vorms, grootte en posisie in die ruimte. Hy mag ook sukkel met sintese en analise.
• Voorgrond-agtergrond diskriminasie is die vermoë om voorwerpe op die voorgrond en agtergrond waar te neem en hulle sinvol te skei. ‘n Kind wat sukkel met voorgrond-agtergrond diskriminasie mag sy plek op die bladsy verloor, of kan nie sy plek op die bladsy kry en behou nie.
• Vormwaarneming kan beskryf word as die vermoë om vormverskille tussen onderskeie voorwerpe te kan waarneem. Dit is een van die mees basiese diskriminasies wat ‘n kind moet kan maak. Enige kind met swak vormwaarneming het beslis ‘n groot agterstand wanneer hy met skoolverwante aktiwiteite van enige aard gekonfronteer word. Daar is skaars enige akademiese aktiwiteit te bedink wat nie van die kind verwag om vormwaarnemings te maak nie.
Die mees voor-die-handliggende klaskamer-aktiwiteit wat vormwaarneming van die kind vereis, is lees. Letters van die alfabet leer, lettergrepe en woorde aanleer sal ongetwyfeld moeilik wees as die kind probleme daarmee het om letters, lettergrepe en woorde se vorms te onderskei.
• Grootte-onderskeiding. Die kind met probleme in hierdie gebied mag sukkel om onderskeid te tref tussen ‘n hoofletter S en ‘n kleinletter s.
• Ruimtelike verhoudings verwys na die posisie van voorwerpe in ’n ruimte. Dit verwys ook na die vermoë om voorwerpe se verhouding tot ander voorwerpe akkuraat te bepaal. ’n Persoon met probleme op die gebied van ruimtelike oriëntering mag die moeilik vind om te onderskei tussen b,d, p en q.
• Sintese en analise behels die vermoë om ‘n voorwerp as ‘n geheel waar te neem, dit op te breek in dele en weer sinvol saam te voeg.
Die term visuele disleksie of diseidetiese disleksie word dikwels gebruik om ’n dislektiese persoon wat sukkel met visuele prosessering te beskryf.
OUDITIEWE PROSESSERING
Ouditiewe disleksie of disfonetiese disleksie, aan die ander kant, is terme wat gebruik word om ’n dislektiese persoon met ouditiewe prosesseringsprobleme te beskryf.
Ouditiewe prosessering verwys na die vermoë om sin te maak uit inligting wat gehoor word. Dis nie ’n onvermoë om te hoor nie, maar ’n onvermoë om dit wat gehoor word te interpreteer, te organiseer of te analiseer.
Probleme met ouditiewe persepsie kom oor die algemeen ooreen met die in die visuele area en ons onderskei tussen die volgende:
• Ouditiewe voorgrond-agtergrond differensiasie verwys na die vermoë om dit te selekteer waaraan ons aandag wil gee en te ignoreer wat nie relevant is nie.
• Ouditiewe diskriminasie verwys na die vermoë om te onderskei tussen eenderse en verskillende klanke.
• Ouditiewe sintese en analise. Ouditiewe sintese is die vermoë om klanke of lettergrepe saam te voeg tot ‘n woord. Die kind wat probleme het op hierdie gebied kan byvoorbeeld die klanke van die woord l-a-m-p apart uitspreek, maar kan die afsonderlike klanke nie saamvoeg om die woord lamp te vorm nie. Hy mag ook probleme ondervind met ouditiewe analise, oftewel die vermoë om die geheel van die woord wat ouditief waargeneem word, in sy afsonderlike (klank-) eenhede te analiseer (of op te breek); hy sal dus nie lamp kan klank nie.
PROSESSERINGSPOED
Prosesseringspoed verwys na hoe lank dit vat om dinge gedoen te kry.
Disleksie word verbind met stadige prosesseringspoed. Hermunder Sigmundsson en sy kollegas het twee simulasies van bestuurstoetse vir ses disleksie-lyers en elf ander persone laat uitvoer. Daar was padtekens en hulle het op nagebootsde plattelandse- en stadspaaie teen verskillende snelhede bestuur. Die span navorsers het waargeneem dat die dislektiese persone 20% stadiger reageer het op verkeerstekens op plattelandse paaie, en 30% stadiger op dié van stadspaaie, as die nie-dislektiese kontrole groep.
GEHEUE
Geheue is die stoor van inligting oor ’n tydperk. Alhoewel die woord ‘geheue’ ’n “alles-of-niks”-proses veronderstel, is dit duidelik dat daar verskillende tipes geheue is, elk tot ’n mate onafhanklik van die ander.
• Visuele geheue is die vermoë om visuele waarnemings te stoor en later, as die oorspronklike waarneming nie langer sigbaar is nie, weer te herroep. Dit beteken dat die persoon in staat moet wees om ‘n duidelike beeld van die stimulus, byvoorbeeld ‘n woord, in sy geestesoog te vorm, sodat wanneer die stimulus nie meer voorhande is nie, hy nogtans in staat is om dit duidelik en sonder enige hulp weer op te roep.
’n Goeie visuele geheue is onontbeerlik vir die opbou van ’n visuele “woordeboek” in die brein.
Goeie lesers kan woorde teen die spoed van lig erken wanneer hulle lees, omdat hulle die woorde in hierdie “visuele woordeboek” geplaas het, sê Georgetown University Medical Center (GUMC) neurowetenskaplikes. Die visuele woordeboek-idee weerlê die teorie dat ons brein woorde klank elke keer wanneer ons dit sien.
GUMC-navorsers het die woordherkenning in 12 vrywilligers met behulp van fMRI-skanderings getoets. Die navorsers het bevind dat woorde wat verskillend is, maar dieselfde klink (soos “ly” en “lei”) verskillende neurone aktiveer. “As die klanke van die woord ‘n invloed gehad het sou dieselfde of soortgelyke neurone geaktiveer gewees het, maar dit was nie die geval nie. “Ly” en “lei” kon net sowel “ly” en “sop” gewees het. “Dit dui daarop dat, wanneer ons ‘n woord eers ken, die visuele inligting al is wat ons gebruik en nie die klanke nie,” het hoofnavorser Laurie Glezer verduidelik.
• Ouditiewe geheue veronderstel die vermoë om inligting wat mondelings aangebied word te prosesseer, te stoor en te kan weergee.
Volgens Cyndi Ringoen, ‘n Amerikaanse kundige op die gebied van breinontwikkeling, is ‘n swak ouditiewe korttermyngeheue dikwels die oorsaak van ‘n kind se onvermoë om met die klankmetode te leer lees.
“Die klankmetode is ‘n ouditiewe sisteem, en as daar tekortkominge in ouditiewe korttermyngeheue is, sal dit die kind verhinder om met die klankmetode te leer lees,” sê Ringoen.
• Reeksgeheue verwys na die herroep van items in ‘n spesifieke volgorde. In reekse soos die dae van die week, maande van die jaar, ‘n telefoonnommer, die alfabet en in tel is die volgorde van die elemente van kardinale belang.
Aangesien elke woord uit letters in ‘n spesifieke volgorde bestaan, is reeksgeheue sonder twyfel belangrik in die leesproses. Om te kan lees, moet ‘n mens die letters in volgorde waarneem, en ook onthou watter woord deur daardie lettervolgorde verteenwoordig word. Deur bloot die volgorde van die letters in name te verander, kan dit mane of amen word.
Baie leerders met leesprobleme het ‘n swak reeksgeheue. ‘n Studie, gepubliseer in die Journal of General Psychology (2012), het 33 dislektiese kinders en 33 normale lesers van dieselfde ouderdom met mekaar vergelyk en bevind dat die dislektiese groep se visuele en ouditiewe reeksgeheue beduidend swak was.
Nog ‘n studie, gepubliseer in die Archives of Clinical Neuropsychology (1999), het 24 persone met ouditiewe disleksie en 21 met visuele disleksie vergelyk met ‘n kontrolegroep van 90 deelnemers. ‘n Swak ouditiewe reeksgeheue was waarneembaar in persone met ouditiewe sowel as visuele disleksie.
• Terwyl meeste studies op die gebied van disleksie op korttermyngeheue fokus, naamlik op die vermoë om ‘n klein hoeveelheid toeganklike inligting vir ‘n kort periode in die geheue te stoor, het navorsing bewys dat persone met disleksie ook sukkel met langtermyngeheue.
‘n Studie wat in 2010 in Dyslexia gepubliseer is, is gedoen deur 60 dislektiese kinders se prestasie op verbale en visueel-ruimtelike vlak te vergelyk met 65 normale lesers van dieselfde ouderdom. Die resultate van hierdie studie het daarop gedui dat die dislektiese kinders ‘n gebrek het aan kapasiteit ten opsigte van langtermyngeheue.
• Werkende geheue dui op die vermoë om verskeie feite of gedagtes tydelik in die geheue te hou terwyl ‘n probleem opgelos word, of terwyl ‘n taak uitgevoer word. Mens gebruik byvoorbeeld hierdie werkplek in jou brein wanneer jy getalle moet optel sonder die hulp van pen en papier of ‘n sakrekenaar.
‘n Navorsingstudie, gelei deur sielkundige Merav Ahissar, het 52 musikante bestudeer waarvan 24 dislekties was; die ander 28 was nie. Beide groepe was onderwerp aan ‘n verskeidenheid ouditiewe toetse. Alhoewel beide groepe ewe goed presteer het met die ouditiewe persepsie toetse, het die musikante wat dislekties is heelwat swakker gevaar in toetse wat ouditiewe werkende geheue gemeet het.
‘n Ander belangrike en konsekwente bevinding is dat probleme op die gebied van werkende geheue veroorsaak dat kinders sukkel om te begryp wat hulle lees. Lees is ‘n ingewikkelde vaardigheid wat die gelyktydige aktivering van verskeie prosesse in die brein vereis.
LOGIESE DENKE
Logiese denke is die proses van redenering wat ons gebruik om tot ‘n gevolgtrekking te kom. Probleme en situasies waarby logiese denke betrokke is vereis struktuur, verbande tussen feite en aaneenskakeling van redenasies wat ‘sin’ maak.
Logiese denke gee lesers die vermoë om afleidings te maak, wat vereis dat ons dit wat ons weet gebruik om te probeer bepaal wat ons nie weet nie, of om ‘tussen-die-lyne’ te lees. Lesers wat afleidings kan maak gebruik leidrade uit die teks asook hulle eie ervarings om hulle te help ontsyfer wat nie direk gesê word nie. Logiese denke speel dus ook ‘n vername rol in leesbegrip.
Is disleksie dan nie oorerflik nie?
Vele navorsers is van mening dat disleksie ‘n genetiese disfunksie is wat oorgeërf word van geslag tot geslag. As ondersteuning vir hierdie siening word vele studies voorgehou wat aandui dat daar dikwels ‘n familiegeskiedenis van disleksie is. Professor Beve Hornsby het byvoorbeeld bevind dat soveel as 85% van disleksielyers ‘n nabye familielid het wat soortgelyke probleme met lees en spel het of gehad het. Volgens een Amerikaanse studie verhoog die risiko dat ‘n kind ‘n leesprobleem sal hê viervoudig tot dertienvoudig, as een van die ouers ook so ‘n probleem gehad het.
‘n Mens mag egter nooit vergeet dat statistiese gegewens dikwels niks meer is as omstandigheidsgetuienis nie, en omstandigheidsgetuienis moet altyd geïnterpreteer word. Ongelukkig kan dit maklik verkeerd geïnterpreteer word.
Dit is dalk wenslik om ‘n voorbeeld te gee van hoe gevaarlik dit kan wees om gevolgtrekkings te maak op grond van statistieke alleen. Tot ‘n aantal dekades gelede is inwoners in bepaalde dorpe in Suid-Afrika toegelaat om boorgatwater as drinkwater te gebruik. In sommige van hierdie plekke het die boorgatwater veroorsaak dat die inwoners se voortande verkleur het. Behalwe as iemand in die huis valstande gedra het, was almal — pa, ma en kinders — se voortande gevlek. Trouens, die persentasie van kinders en ouers wat almal gekleurde voortande gehad het, was waarskynlik 100%. Soos reeds aangedui, was oorerflikheid egter nie die oorsaak van die verkleurde voortande nie, maar wel die omstandighede waarbinne die gesinslede geleef het en die unieke omgewing wat hulle gedeel het, in die sin dat almal dieselfde water gedrink het.
Een van die vernaamste besware teen studies oor die oorerflikheid van disleksie is dus dat die statistieke verkeerd geïnterpreteer word: die voorkoms van disleksie in families word nie noodwendig veroorsaak deur gene nie, maar kan ook veroorsaak word deur die unieke omgewing wat die individue deel.
Dat gene wel ‘n rol speel in menslike vermoëns en talente word nie ontken nie. Om te bepaal presies hoe groot die rol is wat gene speel en hoeveel die omgewing daartoe bydra, is egter onmoontlik. Neem byvoorbeeld ‘n man soos Mozart, wat een van die briljantste musici van alle tye was. Mozart se hele gesin was musici en vandat hy klein was, is hy blootgestel aan ‘n omgewing waar hy daagliks musiek gehoor het. Gestel nou net dat Mozart direk na geboorte deur ouers aangeneem is wat glad nie musiek gemaak het nie. Sou ons nog vandag geweet het van Mozart se bestaan? Dit is mootlik, maar dit is te betwyfel.
‘n Laaste vraag wat ons onsself moet afvra: selfs al sou dit wees dat disleksie oorgeërf word, bly die vraag nog of ‘n mens gedoem is tot mislukking omdat jy ‘n slaaf van jou gene is, of kan jy leer om dit te oorkom?
By Edublox glo ons dat die kind nie ‘n slaaf van sy gene is nie, maar sy leesprobleme kan oorkom.
Het Einstein disleksie gehad?
Om bewustheid vir disleksie te kweek het ondersteuningsgroepe die idee versprei dat vele beroemde mense, onder andere Albert Einstein, dislekties was. Die storie is soveel keer herhaal dat dit vandag as ‘n feit beskou word ten spyte daarvan dat die literatuur dit weerlê.
Dit word dikwels beweer dat Einstein eers op die ouderdom van vier begin praat het, wat dan ‘n “teken” van sy disleksie was. Volgens Einstein se biografieë is dit eenvoudig nie waar nie. Toe Einstein twee en ‘n half jaar oud was is sy nuutgebore suster Maja aan hom gewys. Einstein, wat ‘n speelding verwag het, het teleurgesteld gesê, “Maar waar is haar wieletjies?” Toe hy sewe jaar oud was, skryf sy ma: “Gister het Einstein sy rapport gekry. Hy was weer eerste in sy klas. Sy rapport was briljant.” Teen die ouderdom van nege en ‘n half was Einstein aanvaar deur die kompeterende Luitpold-Gymnasium, wat bewys dat hy akademies bo-gemiddeld presteer het. Op ouderdom dertien het Einstein boeke, geskryf deur Darwin en Kant gelees. Dis beslis nie verteenwoordigend van dislektici nie.
Kan Edublox disleksie ophef?
Daar is meer as 800 gevallestudies en getuigskrifte op hierdie webtuiste van leerders wat gehelp is om hulle leerprobleme, insluitend die simptome van disleksie, te oorkom. Daar is ook navorsingstudies wat bewys dat Edublox vaardighede soos gefokusde aandag, prosesseringspoed, visuele geheue en lees verbeter. Klik hier vir meer besonderhede. Hieronder is twee gevallestudies, die tweede in video-formaat:
Onafhanklike toetsresultate het bevind dat Marie, ‘n graad 5-dogter, drie jaar onder graadvlak lees. Haar spelling was twee en ‘n half jaar onder graadvlak. Sy is met behulp van die Disleksie-Beslissings-Toets met “disfoneidese” gediagnoseer. Disfonese is ‘n slim woord vir ouditiewe disleksie, terwyl diseidese verwys na visuele disleksie. Disfoneidese beteken dat albei tipes teenwoordig is.
Twee jaar later, danksy Edublox-klasse, het Marie se lees en spel genoegsaam verbeter sodat sy nie meer as dislekties beskou word nie:
Kyk gerus na hierdie video:
,