Ek val met die deur in die huis: Edublox verander lewens. Edublox verander nie net ‘n kind met ‘n leeruitdaging nie, dit verander die hele dinamika in ‘n gesin, verhoudings en gesindhede.
Met ‘n mens se eerste kind maak jy baie foute. Verstaan my desperaatheid twee jaar en ± ses maande gelede. My seun, Daneél, het skolastiese uitdagings (lees- en leerprobleme) gehad. Hy was in vier verskillende skole (onder andere ook in ‘n skool wat spesialiseer in ADHD). Om van skool te verander, verander nie die probleem nie. Na duisende rande se toetse, evaluasies, pediatriese neoroloë, remediëring (en ‘n psigiater vir die ma!), het ek van Edublox gehoor en ‘n middag na werk by Susan aangegaan. Sy het ‘n boks tissues uitgehaal en na my geluister so tussen die moedelose trane deur.
Sy het gesê daar is altyd hoop. Hy moet net leer hoe om te lees en hoe om te leer. ‘n Kind wat nie kan lees nie, het nooit geleer hoe om te lees nie. ‘n Kind wat nie kan Frans praat nie, het nie “disfransia” nie — die kind moet leer om Frans te praat. ‘n Kind wat nie kan lees nie, het nie “dislexia” nie — die kind moet leer hoe om te lees.
Daneél is geëvalueer en sy het begin met die basis van lees en leer. Twee jaar en ses maande later is Daneél ‘n ander mens.
Hy is nou in Laerskool Constantia Park. Hy is mal oor skool, hy lees boeke (met selfvertroue) en hy geniet dit om huiswerk te doen. Hy het ‘n goeie selfbeeld, selfvertroue en hy glo in homself (vier verskillende skole kan nogal skade doen aan ‘n kind se selfbeeld en selfvertroue!). Hy het nooit gekla om Edublox toe te gaan nie. Dit is ‘n opbouende, vriendelike, positiewe atmosfeer. Hulle weet Susan glo in hulle en hulle word nooit afgebreek nie.
As jy self in die situasie is, voel twee jaar en ses maande dalk lank, maar as jy terugkyk, is dit meer as die tyd en geld werd. Hy gaan nou later in die jaar ‘n studiemetodekursus by Edublox doen. Hoe vroeër hulle begin, hoe vinniger kan die lees- en leerprobleem opgelos word. Daar is nie ‘n kitsoplossing nie. Susan gee nie ‘n breinoorplanting nie, sy leer die brein om te leer.
My middel seun, Gideon, het begin met Graad 1 (2010) en het “redelik” gedoen tot die derde en vierde kwartaal. Sy klasonderwyseres het gesê sy is bekommerd oor sy skolastiese vordering. Ek het dadelik na Susan toe gehardloop met my krisis. Sy het voorgestel dat ons hom vir twee weke uit die skool haal (met die hoof se toestemming) en hom van Maandag tot Vrydag vir individuele Edublox-klasse van 08:00 tot 13:00 vat.
Ek kan nie in woorde sê wat dit vir Gideon gedoen het nie. Sy klasonderwyseres en almal betrokke in sy lewe was verbaas oor sy vordering in slegs twee weke. In Graad 1, die derde kwartaal, het hy omtrent net 1’s en 2’s op sy rapport gekry. In Graad 2, die vierde kwartaal, het hy 3’s en 4’s gekry.
In ons huis is huiswerk doen nie meer soos oorlog nie! Almal is positief en Daneél en Gideon is selfstandig.
My jongste seuntjie gaan in 2013 Graad 0 toe. Ek gaan hom al sommer aan die begin van die jaar vir ‘n volledige evaluasie na Edublox neem sodat die basis reg is vir sy skoolloopbaan. Hoe jonger hulle begin, hoe vinniger die resultate!
By Edublox is elke kind se menswees en potensiaal belangrik.
My kinders het ook geleer dat die saad van harde werk ‘n fantastiese oes van vordering en prestasie bring.
Gertrud
02/02/2012
Gideon se skoolrapport vóór hy by Edublox begin het:SKAAL: 4: Uitstekend bemeester 3: Bemeester 2: Gedeeltelik bemeester 1: Vereis aandag Gideon se skoolrapport een jaar later: |