Beste Marietha
Hiermee wil ons net ons dank uitspreek met wat julle en die Edublox-program vir Danie beteken het.
Danie het by ‘n vrou tuis onderrig ontvang vanaf graad 3. In die tyd wat hy daar was het ons baie goeie rapporte gekry en ons was gerus aangesien sy beweer het dat sy saam met ‘n privaatskool in die dorp werk en dat die werk dus op standaard is. Na verskeie uitvalle oor sy ADHD-medikasie het ons hom uitgehaal en in die privaatskool saam met wie sy sogenaamd gewerk het ingeskryf. Binne ‘n maand is ons ingeroep en meegedeel dat hy te ver agter is en dus al die ander kinders in die klas agterhou.
Ons het hom na ‘n opvoedkundige sielkundige geneem om getoets te word, waar hy steeds op graad 3 vlak getoets het. In die tyd het ons op die internet van julle bewus geword en hom na Vereeniging toe geneem. Na die evaluasie het jy ‘n twee weke intensiewe kursus voorgestel. Die opvoedkundige sielkundige het gereken ons plaas verniet ons hoop op die program. Ons het deurgebyt en elke dag deurgery. Intussen was ons by verskeie skole om vir hom ‘n plek in ‘n skool te kry.
By Fakkelskool in Sasolburg het hy gegaan vir toetse en dit was effens beter as die toetse as by die sielkundige. Ons is ingelig dat hy baie agter is maar dat hulle hom ‘n kans sal gee in 2015 in graad 6.
Verstaanbaar was hy baie negatief en het bly sê dat hy nie goed doen nie. Sy toetse was nie sleg nie en sy Afrikaans, waarmee hy baie gesukkel het, was darem deur, wat vir ons klaar ‘n prestasie was.
Vandat die skool die tweede kwartaal begin het was hy redelik opgewonde en wou weet wat sy beloning is as hy al sy vakke deur is. Laas naweek toe hy huistoe kom het hy gesê hy soek ‘n hemp waarby hy sy das kan aansit want die onderwyser het gesê hy moet netjies wees vir Maandag se saalperiode. Die hele naweek het hy bly hoop hy is een van die top 5 studente in sy graad.
Gisteraand is die rapporte uitgedeel tydens die oueraand, en ons is meegedeel dat hy die top-student in die graad 6 groep is, met ‘n gemiddeld van 86% waarvan sy laagste punt 78% is vir Afrikaans, en die beste Wiskunde waarvoor hy 98% gekry het. Hy was baie opgewonde om sy balkie vir ons te wys.
Om te dink laas jaar was ons so moedeloos en nou staan hy eerste in sy graad groep.
Dankie vir alles wat julle vir hom beteken het, al moes julle sommige dae op julle tande byt en baklei dat hy moes werk, veral wanneer hy so negatief met homself was.
Ons was ingelig deur baie dat ons ons hoop te veel plaas op julle program, maar kan vandag sê dat die program ons wildste drome oorskry het. Ons het gehoop dat ons kind net deur die skool moet kom en het nooit in ons wildste drome gedink dat hy die top-student in die graad sal wees nie.
Weereens baie baie dankie.
Marietha en Wouter de Vos