Marco het in Junie 2012 vir evaluering gegaan by Edublox. Dit is nadat ons deur pediaters is, diagnoses van ADD gekry het, Ritalin gebruik het, Concerta gebruik het — en fisiese reaksies op albei gehad het.
Op daardie stadium was sy punte oor die algemeen nie te sleg nie, hoewel party vakke se toetspunte net bo 35 of 40 was. Die gedrag was wel ‘n probleem en teen die einde van die tweede kwartaal het hy reeds drie keer detensie gesit — meerendeels oor huiswerk nie gedoen nie, opdragte nie voltooi nie en boeke by die huis vergeet.
Ons het agtergekom dat hy gesukkel het om een opdrag te onthou en uit te voer, om nie te praat van twee nie. Om te sê dit is bedtyd, gaan borsel jou tande, het ‘n 15-20 minute proses geword omdat jy hom sou kry in elke ander vertrek en hy kan nie onthou wat hy moes doen nie.
Met die eerste evaluasie by Edublox het dit geblyk dat hy beperkte korttermyngeheue het. Dit het baie verduidelik in terme van die opdragte wat ek nooit van geweet het wat voltooi moet word nie.
Die verbeteringe na 6 maande is baie duidelik. Die punte wys verbetering, maar in Marco se eie woorde: “Die blokkies wat ons in volgorde moet onthou, help my met wiskunde.”
Die feit dat hy meer as een opdrag op ‘n slag kan begin onthou en dan uitvoer is klaar ‘n verbetering. Sy konsentrasie strek nou oor langer tye. Waar ek laas jaar deur al die boeke gaan en soebat om huiswerk gedoen te kry, pak hy self uit en doen self sy huiswerk.
Wat nog aandag benodig? Wel volgens hom is leestekens te moeilik — sy leesspoed het opgetel, maar hy ignoreer die leestekens (“want ek hou nie daarvan nie”). Die opdragte wat hy uitvoer, is al meer, maar die detail ontbreek.
In my en sy lewe het Edublox ‘n groot verskil al gemaak — soveel so dat ten spyte van die een inskrywing vir huiswerk nie gedoen nie, vroeg die jaar, is daar ten minste een inskrywing vir goeie gedrag ook.
Dankie, Susan en jou span. Dit help werklik!!!
Marilette Maritz