Dawid sukkel al vanaf Gr. 1 met sy lees. Hy sukkel om woorde te herken, en klank bykans elke woord as hy lees. Dit raak ‘n probleem as hy later instruksies moet lees om opdragte te kan voltooi. Hy het verder bykans vir elke toets minder as 50% behaal omrede hy sukkel met lees, en as hy lees, voer hy die opdrag verkeerd uit.
Sy konsentrasie was beroerd en hy was heeltyd rusteloos tydens onderrigtyd, opdragte was ook nooit volledig voltooi nie. Soms het hy telkemale raas gekry in die klas omdat hy so rusteloos was en ek is gereeld tydens oueraande ingeroep omdat my kind “stout” en rusteloos was.
Dit het gemaak dat Dawid se selfbeeld skade gekry het. Hy het homself onttrek van sportaktiwiteite en het ook minder maats gehad. Hy was elke middag huilerig en goed omgekrap. Ek as ouer was baie hartseer en bekommerd.
Ek het dit ‘n gebedsaak gemaak, en toe kry ek ‘n inligtingsbrosjure vanaf Edublox. Ek het Dawid laat toets by Nicolene Potgieter van Edublox in Krugersdorp. Ek het dadelik geweet na die uitslag, Edublox is my antwoord!
Na slegs een maand van Edublox (4 klasse), het ek reeds die rustigheid van Dawid begin ervaar. Hy was kalmer en gemotiveerd om te meer te lees. Waar hy in die verlede slegs een keer per week wou lees, wou hy nou elke dag lees! Edublox het die proses van lees en leer op ‘n genotvolle wyse aangebied, sodat Dawid nie agtergekom het dat hy besig is om te leer nie. Sy speltoetse het binne 8 lesse verbeter van 50% na 70-80%, en sy lees het met bykans 40% verbeter in 16 lesse.
My seun is weer gelukkig . Hy kan langer konsentreer, sy aandagspan is beter, en hy kry glad nie meer raas in die klas oor sy “stout” en rusteloosheid nie! Hy het weer maats (omdat hy nie meer afknouerig is nie) en sy selfbeeld het verbeter.
Dawid lees nou elke aand vir ons uit die Bybel — wat vir ons opvallend was, is dat ons glad nie gedurende die vakansie gelees het nie, en hy kon Psalm 23 vlot lees toe die skool weer begin het. Resultate van Edublox is dus blywend!
Dawid sukkel nog met lang opdragte wat hy moet uitvoer, asook hoe om opsommings te maak. Ons wil beslis die studiemetode-kursus volg en bywoon sodat hy self kan opsom en feite analiseer. Ons wil graag sy leesspoed ook verbeter.
Baie dankie vir ‘n PUIK instansie soos Edublox — dit het my kind se gedrag, leer en lees gehelp, en beslis gebou aan sy selfbeeld. Ek is ook ‘n ander mens — meer kalm en rustig, en definitief nie meer gespanne nie want my kind presteer!
Anelle Roux