‘Ernstige Uitvalle in Ouditiewe Prosessering’ Oorkom

feedbackJohan-Albert het by Edublox ingeskakel nadat hy met ernstige uitvalle in ouditiewe prosessering gediagnoseer is wat sy vordering op skool belemmer het.

Alhoewel hy al van ouderdom 2 en ‘n half aan en af by spraakterapie en arbeidsterapie ingeskakel was omdat hy laat begin praat het, was ek altyd onrustig m.b.t. sy ‘akademiese’ vordering. Hy was motories baie vaardig en het byvoorbeeld op 7 maande gekruip en op 10 maande begin loop en kon so te sê onmiddellik goed klouter en klim sonder om homself te beseer. Hy was ook goed met lego bou, selfs bo sy ouderdomsvlak. Sy uitspraak en sinskonstruksie was egter altyd ‘agter’ sy maats se vaardigheidsvlak. Hy het amper vermydend opgetree en sou oogkontak vermy.

In gr. 1 was dit baie duidelik dat Johan-Albert nie die klankies kon ‘hoor’ nie. Hy was toe reeds by spraakterapie ingeskakel. Begin Februarie 2016 is hy geevalueer by die oorinstituut. Daar is gevind dat daar niks fisiologies met sy ore fout is nie, maar dat hy sukkel met ouditiewe prosessering. Gelukkig is dit iets wat met oefening herstel kon word.

Omdat hy stadige vordering gemaak het m.b.t. leesvaardighede het ek hom na ‘n leessentrum geneem; hy was daar ingeskakel van 5 April tot einde September 2016.

Tydens vele google-soeke na nog antwoorde om hom verder te probeer help, het ek op Edublox afgekom en onmiddellik werk gemaak om hom te laat evalueer by Susan. Sy eerste les was op 7 Mei 2016. Susan het aangedui dat ons moet aanhou met die spraakterapie, wat ook baie gehelp het met die herstel van sy ouditiewe prossessering en sinskonstruksie.

Die grootste verrassing was met afloop van die 2de kwartaal toe Johan-Albert se rapport huis toe kom. Selfs sy juffrou het geskryf: “Johan-Albert  het ongelooflik baie gevorder in die kwartaal. Sy werk is netjies en hy presteer baie goed. Jy kan trots wees op jou rapport.  Hou aan om so hard te werk.”   Dit was na 10 sessies by Edublox.

Johan-Albert voel nie meer geintimideerd deur die werk by die skool nie. Hy vind skool nou meestal maklik. Johan-Albert was voorheen onseker oor wat om te doen as sy juffrou ‘n opdrag gee. Hy het dan op maats se werk geloer. Hy vra deesdae eerder vir sy juffrou as hy onseker is en kan meer onafhanklik funksioneer. Dit het sy selfvertroue verseker ‘n hupstoot gegee.

Sy juffrou het op ‘n stadium genoem dat hy baie droom en ‘wegraak’ in die klas wat sy werktempo negatief beïnvloed het. Ek het haar later weer daarna gevra en dit blyk nou nie meer ‘n probleem te wees nie. Alhoewel hy steeds dromerig is, beïnvloed dit nie werklik sy prestasie nadelig nie.

Die kinders skryf elke Vrydag ‘n voorbereide speltoetsie by die skool. Hy kry meestal volpunte. Sy wiskunde het ook baie verbeter.

Alhoewel sy leestempo nog baie kan verbeter is hy instaat om moeiliker woorde te probeer lees en somtyds selfs reg te kry.

As ek soms ‘n woord wat hy moet skryf vir hom wil spel wat ek dink te moeilik vir hom is, sal hy my vinnig stop en sê hy sal self probeer. Hy blom behoorlik as hy dit regkry.

Johan-Albert se spraakterapie is einde Augustus 2016 deur sy spraakterapeut beeindig weens sy goeie vordering. Sy sinskonstruksie en uitspraak van woorde het aansienlik verbeter, soveel so dat ek nie regtig ‘n verskil tussen hom en sy maats kan agterkom nie. Wanneer ek konsepte aan hom verduidelik, snap hy dit vinnig en kan hy vir my ook weergee wat ek gesê het. Hy sal nou ook vir my vra wat ‘n woord beteken, iets wat hy nooit vantevore gedoen het nie.

Dit het ook my vertroue in my kind se vermoë herstel en ek kan nou rustig snags slaap sonder om te bekommer oor die eise van gr. 1. Ek weet Johan-Albert kan dit doen.

Johan-Albert kan nog verbeter met die geneigdheid om te droom, alhoewel dit nie tans ‘n probleem is m.b.t. sy akademie nie.  Sy leestempo kan nog baie verbeter.

Lihani Rademan


Johan-Albert se rapport… 

jar

jar-2

Lihani Rademan Johan Albert se moeder

Skip to toolbar