Ons het Eben in April 2016 Edublox toe gebring vir assessering aangesien hy ’n ander leesklas bygewoon het en ons geen verbetering gesien het die vorige jaar nie. Daar is gevind dat my Gr 4 seun op die vlak van ‘n Gr 2 lees, en dit sy vordering in al die ander skoolvakke benadeel, omdat hy nie op peil lees nie.
Na elke Maandag- en Woensdag-klas, was hy opgewonde oor die werk wat hy gedoen het. Anders as voorheen, het hy uitgesien om dit by te woon, omdat die personeel wat die klasse aanbied geduldig en hulpvaardig was en saam met hom op sy vlak gelees het. Hy wou nooit storieboeke vir my voorlees nie, maar het self besluit om ’n bladsy of twee te lees. Ons het elke aand voor slaaptyd gelees en “The BFG” was die eerste boek wat hy van voor tot agter self gelees het. Dit was fantasties. Waar hy altyd ’n b en d omgeruil het en onsteld geraak het omdat hy eers elke woord moet spel voor hy ‘n sin kan klaar lees, het hy gemaklik deur die paragrawe gelees en gekonsentreer om elke woord korrek uit te spreek. Ons eerste eksamen was stresvol, maar die vorderingsverslag was die bewys dat die ekstra klasse help: Afrikaans het met 5% verbeter en Engels met 10%.
Nou, na die derde kwartaal en slegs 6 maande se ekstra hulp, het sy Engels en Afrikaans met 10 – 12% verbeter. Voorbereide leesstukke vir klaswerk is nie meer so uitdagend soos aan die begin van die jaar nie en hy kan nou fokus om met gevoel te lees en oogkontak te maak terwyl hy lees. Die “volg met die vinger” is ook heeltemal weg.
Eben lees baie beter, maar ek glo die spoed waarmee hy lees kan verbeter. Sien aangehegte vorderingsverslag vir die jaar.
Elaine Cronje