Baie Meer Selfvertroue met Lees

Feedback.3185717_stdEk as ouer, wat saam met Udet huiswerk doen in die aand, het agtergekom dat hy baie sukkel om te lees. In sy Graad 1 jaar het sy juffrou aanbeveel dat ons hom inskryf by die rekenaarleesprogram van die skool. Aanvanklik was beide van ons baie opgewonde oor die program want ons het werklik gedink dat ons ‘n drastiese verbetering sal sien. Aan die einde van sy Graad 1 jaar het daar nie ‘n drastiese verbetering plaasgevind nie. Behalwe dat hy gesukkel het om te lees het ek ook opgemerk dat hy klanke soos b en d met mekaar verwar.

Met die begin van Graad 2 het ek gemerk dat woorde wat ek gedink het hy vlot moet kan lees van Graad 1 af — soos byvoorbeeld is, sit, ons, dit, die — nog spel voordat hy dit kan lees. Gevaarligte het vir my aangegaan toe ek tot die besef kom dat hy nog nie sy Graad 1 woorde onder die knie het nie en nou soveel groter woorde moet kan lees. Udet het ook so hard gekonsentreer om gelees te kry dat hy nooit werklik verstaan het wat hy lees nie. Sy konsentrasie en selfbeeld het dringend hulp nodig gehad. Udet wou nooit lees nie, al was dit dalk net ‘n opskrif op die koerant.

‘n Vriendin van my se kind was ingeskryf by Edublox en sy het met soveel lof van Edublox gepraat en hoe dit haar seun gehelp het, dat ek Edublox as die lig in die tonnel van lees gesien het. Ek het Udet by Edublox ingeskryf om hom te help met sy lees en konsentrasie maar bowenal om sy selfbeeld ‘n goeie hupstoot te gee, sodat hy met vertroue voor sy skoolmaats kan lees.

Met Udet se evaluasie was my skok groot toe ek verneem watter agterstand hy werklik het. Hy kon heelwat van sy Graad 1 woorde glad nie lees nie en ook nie erken nie. Sy Graad 2 woorde was nog erger. Hy was baie moedeloos na sy evaluering en het nie geweet of ons hom ooit gaan kry om te lees nie. Ek het die tuisprogram gekoop wat pyltjies, bdpq en flitskaarte insluit.

Udet was baie entoesiasties om te begin werk aan die tuisprogram. Ek het getrou elke aand hom gehelp met die woorde en het binne twee maande ‘n verbetering in sy lees opgemerk. Hy het nie meer die b en d omgeruil nie en sy konsentrasie met sy skoolwerkhet ook vir my verbeter.

Die Vlooi-boeke, wat voorgeskrewe leeswerk vir Udet se ouderdomsgroep was, was nie meer vir hom en vir my ‘n straf om te lees nie. Udet het nou dit reggekry om woorde van Graad 1 wat gewoonlik drie letter woorde was, te lees sonder om die woord te moet spel. Dit was beslis vir my ‘n hoogtepunt toe hy ‘n sin kon lees sonder om by ‘n drie letter woord te moet stop om te spel. ‘n Verdere verbetering wat ek ook by hom opgelet het was dat hy n “nuwe” of langer woord eenkeer moet spel maar as hy weer by die woord gekom het was dit nie nodig om weer die woord te spel nie.

Udet se konsentrasie het ook beslis verbeter want hy kan onthou wat hy gelees het. Waar dit gewoonlik vir hom gevoel het dat hy nooit by die helfte van die Vlooi-boek gaan uitkom nie, lees hy vir my nou vinniger omdat hy nie elke “maklike” woord hoef te spel nie.

Soos vroeër genoem was dit vir Udet ‘n straf om te lees, al was dit net ‘n koerant-opskrif. Nadat ons by Edublox begin het, het Udet beslis baie meer selfvertroue met lees. Hy lees nou in die aand Bybelstories, al is dit nie lank nie maar net ‘n paar sinne, wil my bors oopbars van trots. Voor Edublox wou hy glad nie lees tensy dit met huiswerk gepaard gaan nie.

Tydens die boekuitverkoping by die skool het hy selfs vir homself ‘n storieboek gekoop en hy het vir Kersvader nog ‘n boek gevra. Alles te danke aan Edublox wat hom ‘n liefde vir lees gegee het en sy selfvertroue ‘n goeie hupstoot gegee het.

Al het Udet sulke goeie, positiewe vordering getoon is daar nog baie harde werk wat voorlê. Hy sal beslis nog moet aandag gee aan sy “maklike” woorde. Dit is asof daar tog nog woorde is waarmee hy sukkel. Sy spoed van lees moet beslis ook nog aandag geniet. Ek dink die grootste probleem wat hy dalk nog ondervind is woorde wat nog vasgelê moet word.

Siska Momberg


Opvolg, Julie 2014: Udet se punte verbeter deurgaans; hy is byna gereed om met Edublox op te hou:

udet-rapport

Siska Momberg Udet se moeder

Skip to toolbar