Hierdie artikel is gepos deur MaroelaMedia.co.za op 16 Mei 2016:
Hoekom moet kinders nog die vaardigheid van spelling en ’n netjiese handskrif bemeester in ’n wêreld waarin speltoetsers en sleutelborde alledaagse hulpmiddels geword het?
Is dit nie net so argaïes as om te probeer trigonometrie deurkom sonder die hulp van ’n wetenskaplike sakrekenaar nie?
“Die afgelope drie dekades was daar geweldig baie tegnologiese veranderings wat die opvoedkundige landskap beïnvloed het,” verduidelik Susan du Plessis, direkteur van opvoedkundige programme by Edublox. “Daar is egter sekere vaardighede, soos om korrek te kan spel en om leesbaar te kan skryf met die hand, wat universeel en relevant sal bly.”
Alhoewel speltoetsers en slimfone se outomatiese korrigeerders goeie proeflees-hulpmiddels is en kan help om verstaanbare boodskappe te kommunikeer, moet dit nie kinders ontmoedig om die vaardighede vas te lê nie.
Ander opvoeders stem saam met hierdie sienswyse. Luidens ’n artikel in The Guardian, verduidelik Edouard Gentaz, ’n professor van ontwikkelingsielkunde, hoe die gebruik van penne en sleutelborde van uiteenlopende kognitiewe prosesse gebruik maak. “Om met die hand te skryf is ’n komplekse taak wat ’n kombinasie van vaardighede vereis. Kinders neem jare om hierdie presiese motoroefening te bemeester omdat jy die pen moet beweeg op ’n manier wat verskillende merke op die papier agterlaat,” meen Gentaz.
As kinders nie díe vaardighede baasraak nie, sal hulle waarskynlik ook sukkel om te spel. Volgens die outeurs van die boek Introduction to Learning Disabilities, kan ’n onleesbare handskrif veroorsaak dat woorde verkeerd voorkom, en as kinders stadig skryf kan hulle vergeet wat hulle besig was om op die papier neer te pen.
Du Plessis verduidelik verder dat die vermoë om te kan spel ook die gevolg is van ’n kombinasie van verskeie ander vaardighede. “Dit sluit in die vermoë om ’n geheel te kan sien uit individuele dele, ouditiewe persepsie van hoe die letters klink, ouditiewe geheue en dekoderingsvaardighede. Uiteindelik is die vermoë om te kan spel en met die hand te skryf belangrike fundamentele vaardighede in die leerproses.”
Volgens Du Plessis leef ons in ’n wêreld waar goeie spelling opsioneel geword het as mens kommunikeer op sosiale netwerke en slim toestelle. Soekenjins is ook nie baie streng nie en stel bloot die korrekte spelling voor sonder om die gebruiker in te lig waar hulle verkeerd gegaan het.
“Tradisioneel is spelling een van die min vaardighede waar kreatiewe antwoorde nie toegelaat word nie – slegs een opsie is korrek. Dit is dus belangrik dat ouers hulle kinders aanmoedig om korrek te leer spel en om apps en emojis as sekondêre hulpmiddels in die kommunikasieproses te gebruik.”
As ouers opmerk dat kinders sukkel om te spel ten spyte van ’n doelgerigte poging om te leer sonder digitale hulpmiddels, mag daar onderliggende tekortkominge wees wat ’n betroubare leer- en leeskliniek kan help uitstryk. As kinders byvoorbeeld besonder stadig of onleesbaar skryf, sukkel hulle dalk met disgrafie (’n Griekse term wat verskeie ‘simptome’ saamvat, soos swak podloodgreep, die vermenging van drukskrif en vaste skrif, en inkonsekwente spasies tussen lettergrepe).
“Ironies genoeg is daar aanlyn-programme wat vooraanstaande leerklinieke baie suksesvol kan gebruik om kinders te help met lees, en gevolglik ook met spelling,” voeg Du Plessis by. “Ouers moet op die uitkyk wees vir programme wat mik om kinders te help om lees- en spelprobleme te oorkom, en hulle nie net help om dit beter te bestuur nie. Soek na aanlyn-hulpmiddels wat visueel stimulerend en pret is; dit help ook as programme ? kind se vordering dophou sodat ouers op hoogte kan bly van hul kinders se mylpale en uiteindelike verbetering.”
Sy voeg by ordentlike spelling en leesbare handskrif is beslis nie outydse en argaïese vaardighede nie. “In die digitale wêreld waarin ons onsself bevind, moet ouers fisiese vaardighede as belangrik ag en sommer vroeg-vroeg hulp soek as hulle kinders daarmee sukkel. Daarsonder sal taalgebruik toenemend verswak in die jare wat voorlê.”
0 Responses on Spelling en Handskrif in 'n Digitale Wêreld"