As ‘n mens se oë oor ‘n gedrukte reël beweeg, beweeg hulle in ‘n reeks vinnige sprongetjies wat deur kort pousetjies onderbreek word. Die spronge en die pouses volg mekaar so vinnig op dat ‘n mens heeltemal onbewus is van hulle en daarom glo die meeste mense dat hulle oë egalig oor die bladsy beweeg terwyl hulle lees. Maar as ‘n mens na iemand anders kyk terwyl hy lees, is dit maklik om die vinnige, rukkerige bewegings van die oë waar te neem.
‘n Mens sal nogtans nie die bewegings van die oë kan tel nie, eenvoudig omdat hulle te vinnig plaasvind. Die pouses — daar word gewoonlik na hulle verwys as fiksasies— duur slegs een vyfde tot ‘n kwart van ‘n sekonde.
By die normale beginner-leser kom daar gemiddeld twee fiksasies per woord voor. Dit beteken dat hy minder as een hele woord per fiksasie sien of herken. Hierdie statistiese gegewe is bepaal deur die leestegniek van meer as ‘n duisend Graad Een-lesers op kamera vas te lê met behulp van ‘n oogkamera. Elke kind het ‘n leesstuk bestaande uit ongeveer 100 woorde gelees. Gedurende die lees het daar gemiddeld 224 fiksasies voorgekom, dit wil sê byna 2 fiksasies per woord, wat neerkom op ‘n oogspan van .45 van ‘n woord. Hierdie gemiddelde herkenningspan vermeerder baie geleidelik tot 1.11, of effens meer as een woord per fiksasie, vir normale universiteitstudente wat teen ‘n gemiddelde leesspoed van 280 woorde per minuut lees. Die gemiddelde aantal woorde wat per fiksasie herken word bereik eers een hele woord teen graad elf.
‘n Dislektiese persoon of swak leser sal geneig wees om meer dikwels te pouseer vir fiksasies, en die duur van elke fiksasie is gewoonlik ook langer as by die normale leser. ‘n Verdere verskil tussen goeie en swak lesers is te vinde in regressiewe bewegings. Almal van ons beweeg soms ons oë agteruit terwyl ons lees. Swak lesers doen dit meer dikwels as goeie lesers, maar daar is ook nog ‘n verdere verskil: goeie lesers weet waar om terug te beweeg om weer te kyk. Hulle gaan terug na die begin van frases of sinne, en hulle kan die moeilike of belangrike gedeelte herlees (want dit is die doel van regressiewe bewegings). Swak lesers beweeg hulle oë terug gewoon omdat hulle nie begryp het wat hulle pas gelees het nie.
Deur die leerder se oogspan te verwyd, kan die aantal fiksasies, die duur van die fiksasies en die aantal regressiewe bewegings verminder word, wat tot ‘n vinniger leesspoed lei.
By Edublox doen die leerders oefeninge om hulle oogspan te verwyd.
0 Responses on Die Rol van Oogspan in die Leesproses"